Koers in die Krisis! (nr 11)

17 Mei 2017

 Jaap Marais aan die woord:

Die prys vir vryheid is nooit te hoog nie

My boodskap aan u is: wees sterk en trou aan wat ons het – ons land, ons godsdiens, ons taal, ons kultuur, ons Witmanskap.

Wees sterk in die aanspraak op die reg om voorkeur te hê vir wat ons eie is: ons taal, ons kultuur, ons godsdiens, ons blanke ras. Wees sterk in die aandrang op ons reg om in Afrika vry te wees om onsself te wees. Wees sterk in die wil om ons eie te begrens en te beskerm met ons lewens.

Moenie dat ons bang gepraat word vir die uitdaging van Afrika nie. Moenie dat ons bang gepraat word vir die eise van die stryd nie. Die prys van ’n volk se vaderland en vryheid is nooit te hoog om te betaal nie.

Vir die wat gesteld is op ons volk se eer en selfrespek, wat trou is aan ons volk se geskiedenis van stryd teen oorheersing deur buitelandse magte en swart getalle, vir hulle is die oproep: Staan op vir ons taal, ons kultuur, ons beskawing. Soek krag na bo en na binne. Staan op vir ons reg in die land wat ons land is.

Staan saam vir die beskerming van wat vir ons heilig en onvervreembaar is. Staan vas in die wete dat bo ons ’n God van geregtigheid is en dat agter ons die groot vryheidshelde van ons volk staan. Hulle roep ons op tot dade. Moenie swig nie, moenie vlug nie. Die geskiedenis van ons volk is nie gemaak deur die paaiers en verraaiers of deur die swigters en vlugters nie.

Staan op, staan saam, staan vas. Wees bereid tot stryd vir wat ons het en wat ons verwerf het in hierdie land. En dan sal Suid-Afrika weet dat haar kinders haar roepstem verstaan.

 

Jaap Marais, 31 Desember 1993

Nuwejaarsboodskap

Koers in die Krisis! (nr 10)

10 Mei 2017

Jaap Marais aan die woord:

Nasionalisme: ’n Kontrak met ons nageslag

Ons grootste probleem is dat die massamedia ons historiese sin wil doodmaak. Hulle wil hê ons moet vloek teen ons voorgeslag. Ons moet in die beskuldigdebank gaan staan weens apartheid. Ons moet aan die wêreld skuld bely dat apartheid ’n sonde was en ons moet ons rug draai op ons helde van die verlede.

Die oomblik as ’n volk losgesny word van sy geskiedenis, as hy sy helde wil onteer, dan is hy magteloos teen elke vyand wat daar in die wêreld is. Daarom dat Edmond Burke gesê het: as jy nie terugkyk na jou voorouers nie, sal jy nooit vooruit kyk na jou nageslag nie. 

En dit is waarskynlik die belangrikste rol wat nasionalisme in ’n volk het. Nasionalisme is die kontrak tussen die wat was, die wat is, en die wat na ons sal kom. En dit is daardie kontrak wat die kon”nuïteit aan ’n volk gee, wat sy geslagte bind en wat veral deur die geskiedenis en die dade van sy helde aangevuur word – aangevuur tot die aanvaarding van groot uitdagings wat aan ’n volk gestel word.

Genl De Gaulle het gesê: nie vrede maak, nie versoening nie. Konfrontrasie. Konfrontasie met dié wat jou ondergang soek. En as ’n volk daardie sin verloor, is hy magteloos en sal hy van die verhoog van die geskiedenis afgevee word. Oorloë word nie verloor en veldslae word nie verloor deur wapenmag nie, maar wanneer mense moed en hoop verloor.

En dit is die taak wat die media vandag het: die Afrikaners moet moedeloos gemaak word. Ons moet dink daar is net een manier van optrede, en dit is dat jy moet deel word van hierdie bedrieglike en verraderlike bestel wat op ons afgeforseer is.

Moenie moedeloos word nie! Wees trou aan ons volk. Wees trou aan ons volk se geskiedenis.

Mnr Jaap Marais, 16 Maart 1995

Koers in die Krisis! (nr 9)

1 Mei 2017

Jaap Marais aan die woord:

Wees trou aan ons geskiedenis

As ons trou wil wees aan wat ons is en wat ons het in Suid-Afrika, dan moet ons trou wees aan ons geskiedenis. Dan moet ons opstaan en sê ons verwerp hierdie verraderlike bestel wat op ons afgedwing is. Ons sal nie daaraan deel hê nie. Dit is net as ’n volk deur nasionalisme aangevuur word dat hy daartoe in staat is. In die orde van die natuur sterf elke ding wat nie ’n harstog vir die lewe het nie. En daardie hartstog word betuig deur bereidwilligheid tot stryd vir wat stryd werd is. Dit is daardie hartstog wat ’n volk laat lewe.

’n Samelewing en ’n volk is lewenskragtig in dieselfde mate waarin hy glo dat daar dinge is wat meer werd is as die handhawing van lewe self. Daaruit word heldedom gebore. Dit is daaruit dat mense soos De Wet, De la Rey en die politieke stryders soos Hertzog en Strijdom en Verwoerd werklik uitgestyg het tot heldedom omdat hulle geweet het hulle lewe is minder werd as dié dinge wat groter is in hulle volk se bestaan.

Die vryheid wat ons gehad het, moes eers verloor word dat ons die betekenis en die waarde daarvan reg kon besef. Uit elke krisis wat die Afrikanervolk gehad het, het hy sterker uitgekom. Ons is een van die voortreflikste volke in die wêreld. Daarom kon ons deur al die storms wat daar oor ons volk gekom het, oorlewe. Daarom kon ons as Blankes in Afrika die een volk word wat uit hierdie aarde opgestaan het en hierdie land getem het en opgebou het tot die sterkste staat in Afrika. Sonder daardie voortreflikheid sou dit nie gebeur het nie.

In al die jare van hierdie land se bestaan het ons gesê blank Suid-Afrika is ons land. Ons het nie ’n ander land nie. En ons gaan nie van hom af wegtrek nie. Ons gaan hom terugvat, want hierdie bestel gaan misluk. Afrika gaan inmekaar stort. Wanneer dit gaan gebeur, en hoe dit gaan gebeur, kan ek nie vir u sê nie, maar daardie dag gaan kom en al wat ek vir u sê, is, laat ons saamstaan, laat ons ons geledere sluit, laat ons ons verbind aan mekaar in ’n vaste organisasie sodat ons in verbinding is met mekaar, sodat ons mekaar kan bemoedig, sodat ons saam oor dinge kan dink en saam kan doen. Dan word ’n klein getal ’n groot mag.

Die geskiedenis is altyd gemaak deur die klein minderhede van ’n volk wat begeesterd en oortuig is in hulle saak.

Mnr Jaap Marais, 16 Maart 1995

Koers in die Krisis Nr 8

25 April 2017

Jaap Marais aan die woord:

Nasionalisme is ’n onvernietigbare mag (2)

Moenie vir u laat inpraat dat die skyn van ’n oormag nou alles beëindig het nie. Toe die Bittereinders begin het in Augustus 1900 het dit gelyk of alles verlore was. Die Bittereinders het die wil gehad om weer die stryd te hervat en te volhard. Dit is een van die belangrikste kenmerke van die Afrikanervolk. Nie dat hy met ’n blitsige optrede groot suksesse behaal nie, maar sy onbreekbare volharding: aanhou, aanhou, aanhou.

Na 1902 is sestig jaar aangehou om hierdie land weer ons land te maak – vry van die Britse oorheersing. Sestig jaar. Dit is die uitdaging wat ook voor ons staan. Ons moet by die onmiddellike situasie verby kyk: net soos daardie Bittereinders. Ons moet net voortgaan op die basis waarop ons begin het en die erfgename geword het van die manne wat voor ons was. Ons moet op die basis van Afrikanernasionalisme die stryd voortsit.

Ek verwys na die nasionalisme, maar dit was een van die Nederlandse skrywers wat onlangs gesê het: “Nog godsdiens, nog kommunisme het daarin geslaag om die nasionalisme onder te kry”.

Mense het die behoefte om aan ’n volk te behoort, hulle daarmee te vereenselwig en daarop trots te wees. Dit is die lewenskrag van die nasionalisme.

Daarom, laat ons vir onsself by die begin van hierdie jaar dit duidelik kry: Nasionalisme is ’n onvernietigbare mag op aarde. Ons is geroepe om die bewakers en die draers van daardie nasionalisme te wees. In daardie stryd het ons te doen met die basiese waardes van ons volk: taal, volkskap, vaderland, vryheid. Dít is die wekwoorde waarop ons ons vestig as ons die uitdaging aanvaar om weer vry te word in hierdie land en vir die wêreld te sê: Dié land is óns land. Ons gaan nie vertrek uit hom nie. Ons gee hom nie oor nie.

JA Marais, HNP-kongres

24 Maart 2000

Koers in die Krisis Nr 7

 Jaap Marais aan die woord:

Nasionalisme is ’n onvernietigbare mag

Ons moet dit besef: die Afrikanervolk staan in die pad van ander belange en ander magte. Hierdie land is een van die rykste lande in die wêreld en sy minerale rykdom is ’n aantreklikheid vir daardie magte. Ons is verbind tot stryd as ons wil volk wees in hierdie land. En ons is verbind tot afgesonderdheid in hierdie land. Ons sterkte het nog nooit gelê in ons bondgenootskap met groot magte nie, maar in die innerlike vertroue en wete van die reg van ons saak. Daar het ons krag gelê.

Dus, ons moenie vir ons laat bangpraat en moedeloos praat nie, want dit sal die gevaarlikste ding van alles wees. Ons moet besef die Britse stryd het weer geseëvier. Moenie vir u laat vertel dit is die ANC wat gewen het nie, dit is die Britse vyandigheid wat weer geseëvier het oor die Afrikaners. Ons sit met groot magte teen ons, maar die belangrikste mag in Suid-Afrika is die Afrikanernasionalisme. Dit is wat hierdie land gemaak het en dit is die een ding wat nou weer as ’n mag moet opgebou word as ons onsself weer vry wil maak in hierdie land.

Nasionalisme is een van die merkwaardigste verskynsels wat daar ooit in die geskiedenis was. Dink maar net aan die magtige Soviet-Unie. Die kommuniste kon nie daarin slaag om die nasionalisme te vernietig nie. Selfs met die Christelike godsdiens het elke nasie nog sy eie identiteit bewustelik nagestrewe. Die nasionalisme is ’n onvernietigbare mag en daarom, as ons onsself wil handhaaf vir die toekoms, is die eerste prioriteit dat ons in ons harte sê ons berus nie in hierdie bedrieglike en verraderlike verowering nie.

Die tweede ding is: wat doen ons dan? Ons moet weer Afrikanernasionalisme in beweging bring. En dit sal ons moet doen rondom ons liefde vir ons taal en ons gebondenheid aan ons geskiedenis.

Jaap Marais, 28 April 1995

Dinee by Blinkpan

Koers in die Krisis! (nr 6)

11 April 2017

Jaap Marais aan die woord:

Die Afrikanervolk se land

Laat ons vir die wêreld sê: Dié land is óns land. Ons gaan nie hieruit weg nie. En vir die mense wat maklik sê, hoe kan jy sê dit is ons land, dan sê ek vir hom: Het ons dan nooit ‘n land gehad nie en as ons nooit ‘n land gehad het nie, waarom het ons oorloë geveg?

Daar is een groep mense in Suid-Afrika wat ‘n geboortereg het op hierdie land. Dit is die Afrikaners.

En ek is nie onverskillig nie, maar wanneer hierdie bestel inmekaar stort (en dit sal gepaard gaan met geweld) laat ons dan bereid wees om die nuwe grense van ons Vaderland en ons vryheid ook met bloed te trek.

Jaap Marais, 26 Februarie 2000.

Majubafees, Malmesbury.

Kliek hier vir die .pdf-weergawe: 
https://gallery.mailchimp.com/23ce74e57f4865fc93811627a/files/f2b59043-6064-495c-8c62-eb47b1a3d1d3/Koers_in_die_Krisis_nr_6.pd