Vryemark stabiliteit teenoor korrektiewe sosialisme

Die Handves van Regte beskik oor ʼn omvattende pakket van burgerlike en politeke regte en vryhede soos die reg op gelykheid voor die reg en die reg teen onbillike diskriminasie deur die staat (artikel 9(1) en (3)); menswaardigheid (artikel 10), (sien egter die opmerking oor die reg op waardigheid in die paragraaf onmiddellik hier onder), basiese vryhede vir elkeen met inbegrip van die reg op persoonlike vryheid en sekuriteit (artikel 12); Vryheid van slawerny, knegskap en dwangarbeid (artikel 13), die reg op privaatheid (artikel 14); godsdiens- en meningsvryheid (artikel 15); vryheid van uitdrukking (artikel 16); vryheid om te vergader (artikel 17); vryheid van assosiasie (artikel 18); bewegings- en verblyfvryheid (artikel 21); die beskerming van eiendomsreg (artikel 25) en vryheid van bedryf, beroep en professie (artikel 22); die regte van gearresteerdes, aangehoudenes en beskuldigdes (artikel 35).

Hieruit is dit duidelik dat die Handves ʼn omvattende lys van eerste-generasie regte bevat en sodoende juridiese uitdrukking aan die idee van individuele vryheid gee. Die Staat moet ooreenkomstig hierdie regte natuurlik ʼn gunstige situasie skep om die realisering van al die regte moontlik te maak.

Ooreenkomstig hierdie regte sal dit gewoonlik nie vir die Staat nodig wees om ʼn langtermyn beleidsprogram te loods ten einde die bestaande maatskaplike toestande te verander nie.

Teenoor die vryemarkstroming in die Handves van Regte is daar egter ‘n ander stel bepalings wat uitdrukking gee aan die teenoorgestelde, waarna hier as korrektiewe sosialisme verwys word. By sosialistiese opvattings word in hierdie konteks bedoel opvattings wat omvattende inmenging in die gang van die vryemark voorstaan om in die naam van ʼn kollektiewe agent soos die staat, die nasie, die massa of iets dergeliks die ekonomie ingrypend te transformeer en in die proses ekonomiese bates te herverdeel. Bates moet hiervolgens van die “bevoorregtes” weggeneem en aan “minderbevoorregtes” of eertydse benadeeldes oorgedra word met die oog op die verbetering van die maatskaplike toestande van laasgenoemde.

In die Suid-Afrikaanse konteks word hierdie stroming nie as die een of ander vorm van sosialisme uitgedruk nie, maar eerder as vorme van regstelling en herverdeling wat deur eertydse ongeregtigheid genoodsaak word en as deel van ‘n projek van transformatiewe konstitusionalisme, waarna hierbo verwys is, beskou word.

Nogtans kan die sosialistiese aard van hierdie regsmaatreëls nie ontken word nie. Die opvallendste bepalings van hierdie aard in die Suid-Afrikaanse Grondwet is ar􀆟kels 26 en 27 wat vir tweedegenerasie sosio-ekonomiese regte voorsiening maak naamlik elkeen se reg op toegang tot geskikte behuising (artikel 26) en die reg op gesondheidsorgdienste; voldoende voedsel en water; en maatskaplike sekerheid, met inbegrip van gepaste maatskaplike bystand indien persone nie in staat is om hulself en hul afhanklikes te onderhou nie.

Dit is natuurlik nie vir die ledig aan al hierdie behoeftes te voldoen nie. Gevolglik bepaal subartikel (2) van albei hierdie artikels in gelykluidende terme dat die staat redelike wetgewende en ander maatreëls moet tref om binne sy beskikbare middele elk van hierdie regte in toenemende mate te verwesenlik.

Die korrektief sosialistiese stroming in die Handves van Regte strek egter verder as artikel 26 en 27. Die reg op gelykheid bied verdere onderskrywing van (korrektief) sosialistiese sentimente en doelwitte. Ofskoon die reg op gelykheid soos aangedui (ook) ʼn vryemark-opvalling weerspieël (gelykheid voor die reg in artikel 9(1) en die reg teen onbillike diskriminasie deur die staat (ar􀆟kel 9(3)), gee dit terselfdertyd uitdrukking aan ʼn verbintenis tot korrektief-sosialistiese oogmerke soos blyk uit ten minste die volgende vier verdere – en teenoorgestelde aspekte – van die reg op gelykheid naamlik: die reg op gelyke beskerming en voordeel van die reg (artikel 9(1)); dat die reg op gelykheid ook die volle en gelyke genieting van alle regte en vryhede insluit (ar􀆟kel 9(2)); die regstellende-aksie-bepaling naamlik dat juis ten einde gelykheid te bewerkstellig die staat “regstellende optrede” moet loods, dit wil sê, daadwerklike stappe om eertydse onbillike diskriminasie uit die weg te ruim ten einde juis, soos gesê, die volle en gelyke genieting van alle regte en vryhede te bewerkstellig.

Volledige artikel in Die Afrikaner

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *