Die Gelofte, en Wie is ons?

16 Desember is Geloftedag. Op 16 Desember vanjaar sal hierdie dag weer landwyd (en ook op plekke buite ons landsgrense) deur Afrikaners gevier word. 16 Desember is die belangrikste dag op die Afrikanervolk se jaarprogram.

Ek het deur ‘n paar belangrike dokumente van die verlede gaan blaai. Een wat ‘n mens maar gereeld kan lees, is die toespraak van wyle mnr Jaap Marais op 9 Desember 1988 in die Amfiteater van die Voortrekkermonument.

Met Geloftedag vanjaar net ‘n paar dae ver, is dit dalk goed om weer te lees wat mnr Jaap Marais oor die Gelofte en Geloftedag gesê het. In die tyd waarin die Afrikanervolk hom tans bevind, is dit ook nodig om weer ‘n slag te besin en te vra: Wie is ons?

Ons publiseer graag die toespraak van 9 Desember 1988 op hierdie blad.

Louis van der Schyff

8 Desember 2016

Mnr Marais het gesê:

Die hoofklem by die herdenking van die Groot Trek val op die Gelofte van 9 Desember 1838. Die militêre oorwinning wat ‘n week later daaruit voortgevloei het, was van die grootste belang in die ontplooiing van die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Maar hoe die militêre oorwinning by Bloedrivier ook al geroem kan word, dit staan naas militêre prestasies soos Vegkop en Mosega — veldslae wat nie minder as Bloedrivier was nie. Sommige militêre kenners stel Potgieter se Negedae-oorlog teen Mzilikatsi selfs hoër as Bloedrivier.

Wat Bloedrivier onderskei van al die krygsdade van die Groot Trek, is die Gelofte wat die slag van Bloedrivier voorafgegaan het. Die Gelofte het Bloedrivier verhef tot ‘n kader waar dit enkel en alleen staan en die Afrikanervolk se geskiedenis bestraal. Die wordende volkskap van die Trekkers het net soos die Zoeloe-imperialisme ‘n geleidelike verdigting ondergaan, totdat elkeen saamgebal was vir die krisismoment van gewelddadige botsing.

Die verheffing van die slag van Bloedrivier bo ander veldslae kan beredeneer word, maar die geskiedenis het klaar sy oordeel daaroor gevel. Die onnaspeurlike magte wat in ‘n volk werk, het hulle stempel afgedruk op die Gelofte en Bloedrivier as die sentrale gebeurtenis van die Groot Trek. Solank die Afrikanervolk trou aan sy herkoms is, sal hy weet wat hy aan die Gelofte verskuldig is. Solank die Afrikanervolk bereid is tot die uitdaging van Afrika, sal hy krag put uit dié verbond met God.

 Ons vyande wil die Gelofte laat verval

Juis omdat die herdenking van die Gelofte so ‘n vernuwende krag in ons volk is, sal die vyande en teenstanders van die Afrikanervolk altyd poog om af te doen aan die betekenis van die Gelofte, om vertwyfeling te wek oor die aard van die Gelofte en oor die mense wat deur die Gelofte gebind word. Die doel van die aanslae is dat die Gelofte gaandeweg moet vervaag en Geloftedag moet verval.

Natuurlik is die idee nie dat Geloftedag skielik afgeskaf moet word en die Gelofte daarmee in die doofpot gedoen word nie. Natuurlik gaan dit om meer as die elemente van die Gelofte. Dit tas aan die wortels van die Afrikanerdom as die volk wat in die ontvouing van die Suid-Afrikaanse geskiedenis die sentrale rol gespeel het.

Die eerste argumente in verband met Geloftedag is dat dit nie as ‘n Sabbat erken moet word nie. Dit is natuurlik die eerste skuif om Geloftedag se betekenis stuksgewys af te breek. As Geloftedag nie as ‘n Sabbat gedenk word nie, sal die gewyde atmosfeer van die dag verlore wees. Sport en vermaak sal die hoofklem dra, en met so ‘n verandering van die aard van Geloftedag sal die Afrikanergeskiedenis die eerste tree op ‘n syspoor gestoot word.

Die volgende mikpunt sal wees om Geloftedag as ‘n openbare vakansiedag te laat verdwyn, omdat dit aanstoot sou gee aan ander in Suid-Afrika. Dit sal bestempel word as ‘n kwetsende viering. Natuurlik sal dit meebring dat die sentrale rol wat die Afrikanervolk in Suid-Afrika verwerf het, al hoe meer ondermyn word. En die vraag is: het die Afrikanervolk die reg in Suid-Afrika om op grond van die geskiedenis die sentrale plek te beklee as die rigtinggewende mag — of is die Afrikanervolk ook net ‘n minderheid onder minderhede, almal gelyk in reg en rang?

Dié aanslag is deel van ‘n wyer aanslag

Die bedenkings oor Geloftedag is dus nie geïsoleerd nie, maar deel van ‘n verwoede aanslag op ons geloof, ons waardes, ons sedes, ons geskiedenis. Ons het met ‘n omvattende geruislose kulturele rewolusie te doen waarin ‘n hervertolking van ons geskiedenis ‘n sleutelfaktor is.

As ‘n aggressor voel dat sy aandrang met toegeeflikheid beantwoord word, sal die aggressie toeneem. En as die Afrikanervolk toon dat hy bereid is om net ‘n minderheid onder minderhede te wees en dus gelykgeskakel te word met alle ander groepe, sal hy sy meerdere historiese rol en plek prysgee.

Dit sal die vraag oop laat wie dan die meerdere word. Die meer aggressiewe groep sal uitgelok word om homself as meerdere oor die minderhede te vestig.

Dit is waarom dit gaan.

Elke poging om die aard en betekenis van Geloftedag aan te tas, moet daarom met alle mag teengestaan word. Hoe meer die aandrang is om aan Geloftedag se betekenis af te doen, hoe sterker en beslister moet die weerstand wees.

Wie is ons?

Naas die aanvalle op Geloftedag as ‘n Sabbat is daar die ander aanval, naamlik: Wie is “ons” van die Gelofte?

“Hier staan ons op ‘n oomblik voor ‘n Heilige God van hemel en aarde…” lui die Gelofte.

Die 463 man het uiteraard ook gepraat namens die Trekkers van hulle groep by Sooilaer. Maar dat die trefwydte van hulle Gelofte veel groter was, was gou duidelik.  Die geskiedenis het die Gelofte in ‘n historiese ruimte geplaas wat kennelik nie deur mensehande gemaak is nie. Pretorius en Cilliers het hulle beperkte gedagtes oor die saak gehad. Waar die mens egter wik, is dit God wat beskik.

Wie was “ons” van die Gelofte?

Daar moet besef word dat na die wrede moord op Retief en sy manne, die nog wreder moorde op die slapende vroue en kinders by Blaaukrans, Wenen en Moordspruit, die bedroewende dood van Piet Uys by Italeni en die slag van Maritz se afsterwe, daar ‘n spontane gevoel van eenheid in smart was wat volksgenote bo-oor grense gebind het aan die Trekkers onder Pretorius.

Die smart en teenspoed het ‘n band geword wat die wordende Afrikanervolk omspan het, sodat “ons” waarvan die Gelofte gewag maak, die onbewuste verteenwoordigers van ‘n volk was.

In die geskiedenis gebeur dit meermale dat deur goddelike beskikking ‘n persoon of ‘n groep in ‘n brandpunt geplaas word waar hy of hulle namens ‘n hele volk moet doen. Dit is wat by Danskraal op 9 Desember 1838 gebeur het. Pretorius en Cilliers en die volk was onbewus van die ingrypende betekenis van die daad. Die ontvouing van die geskiedenis het dit eers later geopenbaar.

Die Trekkers van die Gelofte — die “ons” — was in daardie historiese ruimte die Afrikanervolk. En die Afrikanervolk het hom al hoe meer vereenselwig met die Gelofte wat namens hom gedoen is.

Waar ons vanaand weer sê: Hier staan ons, is die vraag weer: “Wie is ons?”

Dit is die belangrikste vraag wat ‘n volk in elke geslag kan vra.

Om te vra: Wie is ons, is om eerstens te vra: Wat is ons herkoms?

Dias, Hugenote, Trekkers

By dié vraag is dit goed om te kyk na die twee ander historiese geleenthede wat vanjaar in Suid-Afrika herdenk word:

  • Dias se epiese vaart;
  • Die geloof en durf van die Hugenote, en dan
  • Die Groot Trek, wat die binneland van Suid-Afrika geopen het en beslissend ingewerk het op die gang van die geskiedenis.

Dias verteenwoordig in ons herkoms die onweerstaanbare drang van die blanke ras om op die see uit vaar, die vreemdheid van verre horisonne op te soek, die woeste storms te trotseer, met ‘n rustelose energie en ‘n onversadigbare drang na verowering. Geen ander ras het dié hoedanighede in so ‘n oormaat besit en dit tot so ‘n groot ontwikkeling in die wêreld benut nie.

Ons wat die Gelofte herdenk en onderneem om dit gestand te doen, ons is van die bloed van hierdie blanke ras wat oor die see gevaar en die wêreld verower het met sy kultuur, sy kuns, sy wetenskap en sy krygskuns.  Ons van die Gelofte is ‘n verre voorpos van die blanke ras van Wes-Europa, met wie ons ons geestelike bande handhaaf terwyl ons onlosmaaklik gebonde is aan ons vaderland in Afrika. Ons van die Gelofte het ons volkskap gevestig in ‘n blanke kultuurbesef en roepingsbesef.

Die Hugenote het ‘n ander deel tot ons aard bygevoeg: die innerlike krag wat die Hugenote die verre onbekende en gevaarlike laat verkies het bo die verraad van geloof en oortuigings. Hulle het ‘n verdieping van die godsdienssin gebring en ‘n toonbeeld geword van ‘n Christendom wat nie week en deemoedig voor sy bedreigers staan nie, maar bereid is om met opoffering ‘n pad te loop waar hy trou is aan eer en plig en waarheid.

Andries Pretorius het voor sy vertrek uit die Kaapkolonie gesê: “Die Trek is deur God gewil. En as dit Hom behaag, sal die Trekkers in die land waarheen hulle verhuis, tot ‘n volk word enter syne eere leven’ “.

Dit was ‘n trek van kulturele en politieke vryheid.

Dias, die Hugenote en die Groot Trek belig dus die vraag: “Wie is ons?” Dit belig ons Witmanskap, ons Christenskap, ons Afrikanerskap. As daar vandag gevra word: “Wie is ons van die Gelofte?” dan is die antwoord: Ons wat deur ons Witmanskap, ons Christenskap en ons Afrikanerskap aan die Gelofte gebind wil wees.

In die aanslag op Gelotedag sal daar heftige pogings wees om uit naam van rassisme ons sku te maak vir ons Witmanskap; om uit naam van broederskap ons te verwar oor ons Christenskap; om uit naam van hervorming ons Afrikanerskap as ‘n struikelblok na vrede voor te stel.

Moenie toegee aan kleingeloof nie.

Rondom die Gelofte is daar vir ons tyd ‘n les: in teenspoed en teleurstelling word mense se karakters beproef, en bring dit die beste na vore; word moed om te volhard ‘n hoë deug; word trou aan plig en eer en waarheid ‘n mag; en kan met geloof in God ‘n daad verrig word wat uitkring oor die jare en ‘n volk vir geslagte begeester.