Die HNP se Jaarverslag oor politieke gebeure in 2016

Die jaarverslag van mnr Peet Joubert, voorsitter van die HNP, tydens die HNP se 47ste jaarkongres vanjaar, bevat waardevolle en interessante feite en statistiek oor die politiek onder die ANC-bewind.

Verskeie persone wat die jaarverslag gelees het, het gevra dat dit gepubliseer moet word sodat meer mense dié inligting ter hand het. Die jaarverslag is opsommend in die jongste uitgawe van Die Afrikaner gepubliseer.

Die HNP publiseer dit ook hier volledig vir kennisname.

 

HERSTIGTE NASIONALE PARTY

47ste Jaarverslag aan die Kongres op 22 Oktober 2016

Inleiding

Republiekwording op 31 Mei 1961 was ‘n hoogtepunt en vir dr. Verwoerd was dit ‘n teken dat Afrikaners voortaan Suid-Afrika as enigste tuiste sou hê. Suid-Afrikaners sou moes hard werk om dié Westerse erfenis te handhaaf.

Suid-Afrika het onder leiding van dr. Verwoerd die langste groeitermyn binnegegaan, wat met lae rentekoerse, lae inflasie en sterk groei in werkgeleenthede gepaard gegaan het.

Op 6 September 1966 is dr. Verwoerd se hart in die Volksraad deur vier dolksteke deurboor waarna hy gesterf het.

Dit het ‘n einde gebring aan hierdie tydvak van ongeëwenaarde groeiende prestasies op militêre, politieke, geestelike, ekonomiese en ander terreine sedert ons volk in die laatagtiende eeu tot ‘n bewuswording van sy afsonderlike identiteit as ‘n volk gekom het.

Terselfdertyd het dit ‘n halwe eeu van abdikasie en kapitulasie ingelui wat in sy spoed en intensiteit ongekend in die geskiedenis van volkere is. Daar kan ook geen twyfel wees nie dat, as die proses toegelaat word om so voort te gaan, dit uiteindelik op die totale vernietiging van ons volk en ons land sal uitloop.

Die HNP doen ’n beroep op u om hierdie totale vernietiging deur geloof en toewyding te beveg.

Hiermee doen ons verslag van die belangrikste gebeure in die politiek in Suid-Afrika sedert die HNP-Kongres op 24 Oktober 2015 tot met die Kongres vandag.

 Die HNP

Die HNP staan steeds rotsvas op die beginsels van Afrikaner-nasionalisme. Ons handhaaf ons standpunt dat die redding van die Afrikanervolk nie binne die ANC-bestel lê nie. Daarom neem die HNP steeds nie deel aan die politieke prosesse van die ANC nie. Ons soek ook nie oplossings vir ons volk binne die onchristelike ANC-grondwet nie, soos ons Leier, mnr Andries Breytenbach, dit deurlopend in toesprake, gesprekke en geskrifte uitgespel het.

Die Beplanningskomitee van die HNP het baie gereeld vergader, minstens elke twee weke, waar die aktuele politiek en aksies en propaganda van die Party bespreek en beplan is. Die Hoofbestuur het twee keer suksesvol vergader.

Mnr Andries Breytenbach speel ’n deurslaggewende rol in die optrede van die HNP, veral deur gesamentlike byeenkomste van verskillende Afrikanerorganisasies by te woon en die HNP se standpunt te stel. Die sukses van sy insette spreek duidelik in byvoorbeeld die besef dat verkryging van selfbeskikking (vryheid) vir die Afrikanervolk nie binne die ANC-grondwet moontlik is nie.

Wat openbare byeenkomste betref, was die herdenking van die Konsentrasiekampdag seker die hoogtepunt. Die HNP het aktief deelgeneem. Die byeenkoms by die Irene-kampkerkhof was iets besonders, maar HNP-ampsdraers het ook byeenkomste en kransleggings gereël op Nylstroom, Bloemfontein en by die deurgangkamp naby Bloedrivier.

Die Party het op 24 Augustus die eerste Koers-seminaar aangebied. Die bedoeling is om voortaan gereeld sulke seminare landwyd aan te bied om leiding aan volksgenote te gee oor ons volk se vryheidstrewe. Verskillende temas sal by sulke seminare bespreek word. By die byeenkoms op 24 Augustus het mnr Meinhard Peters gepraat oor die Afrikaanse student en sy taal op universiteitsvlak. Mnr Andries Breytenbach het gepraat oor die verkryging van selfbeskikking vir die Afrikanervolk.

Die HNP doen baie moeite om die Party se standpunte op die sosiale media uit te dra. Die HNP is aktief met e-posse, sms-boodskappe, die Facebook en ook op die nuutgestigte Blog. (www.hnp.org.za)

Ons spreek ons dank uit aan veral die Leier vir sy insette, maar ook aan elke ampsdraer en lid wat met toewyding die saak van die HNP uitdra en die Party staande hou.

Die Afrikaner

Die Afrikaner is die belangrikste item op die HNP se lys van propaganda. Die Afrikaner het die afgelope twee jaar ’n ongeëwenaarde standaard in die joernalistiek gestel. Elke uitgawe het  besonderse en leersame artikels. Elkeen is ’n bruikbare studiestuk. Elke uitgawe het inligting en feite vir die Afrikaner-nageslag. Veral die spesiale Verwoerd-uitgawe is ’n erfstuk wat in elke Afrikanerhuis bewaar behoort te word.

Waar Die Afrikaner die uitsluitlike werk van die redakteur, mnr Meinhard Peters, was, wil ons hom bedank vir hierdie reuse taak wat hy so met sorg uitgevoer het. Ons sê ook dankie aan elke medewerker vir elke rubriek en artikel of brief wat geskryf en gepubliseer is. Dankie aan elke tussenganger wat die moeite doen om ons tydskrif te versprei. Dankie aan elke intekenaar wat dit koop en lees en ons in staat stel om met die produksie te kan voortgaan.

Waar mnr Peters nou uittree, sê ons vir hom baie dankie. Dit was harde  en  moeitevolle  werk,  maar dit was alles die moeite werd om die ware boodskap van Afrikanerskap aan die Afrikanervolk beskikbaar te stel.

Aan sy opvolger, mnr Henk van de Graaf, sê ons sterkte. Mag u vreugde vind in hierdie goeie werk.

 Bevolkingsgroei

In net meer as ‘n eeu het die Suid-Afrikaanse bevolking met 835% toegeneem.

Dit is bevind in ‘n studie deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge. Die rasgroep wat die sterkste aangewas het, is swart mense. In 1910 was daar byna 4 miljoen swart mense en in 2015 meer as 44 miljoen ― dus ‘n groei van 1018%.

In 1910 was daar net meer as 1,2 miljoen wit mense en in 2015 net meer as 4,5 miljoen ― ‘n groei van 261%.

Die getal Indiërs het met 820% (2015: 1,4 miljoen) gegroei en bruin mense met 835% (2015: 4,8 miljoen). Vir die eerste keer was die Bruines meer as die Blankes.

Die wit bevolking het stadig gegroei en in 2010 het die getal begin afneem, volgens die verslag.

Landbou

Die landbousektor se omset is sowat R227 miljard per jaar, met ‘n netto  belastingbydrae van sowat R50 miljard per jaar deur net die primêre landbousektor die afgelope tien jaar. Die landbou-sektor bied werk aan meer as 850 000 mense en Suid-Afrika is die enigste voedselsekerland in Afrika Suid van die Sahara.

Tog het Des van Rooyen, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, onlangs op ‘n mediakonferensie in die parlement sprake van ‘n nasionale ramptoestand die nekslag toegedien. Van Rooyen, wat ook die voorsitter van die interministeriële taakspan oor die droogte is, het gesê deur die monitering by die nasionale rampbestuursentrum is vasgestel daar is geen noodsaaklikheid om ‘n nasionale ramptoestand te verklaar nie.

Terwyl die regering staatswaarborge van sowat R19,4 miljard aan die SAL en R466 miljard aan Eskom goedgekeur het, weier die ANC-regime om boere van hulp te voorsien.

Intussen is die ANC-regering basies besig om landbougrond te “nasionaliseer”. Volgens ‘n gerespekteerde lanbou-ekonoom van Absa AgriBesigheid word ongeveer 99% van die grond wat veronderstel is om deur die regering herverdeel te word, se titelaktes deur die regering gehou en nie aan die mense wat die grond moet bewerk en daarop woon, oorgedra nie.

Dit veroorsaak dat die mense wat die grond moet bewerk, nie lenings daarvoor kan kry nie, want dit is nie hul grond nie. Omdat opkomende boere nie geld kan leen nie, word plase geplunder in ‘n poging om oorlewing.

Sowat 90% van die plase wat suksesvol geëis is, word nie meer kommersieel bewerk nie, wat afstuur op ’n voedselvoorsieningskrisis.

Volgens statistieke wat op 5 Junie 2016 deur die TLU SA bekendgemaak is, is in die eerste helfte van 2016 44% meer mense in plaasaanvalle vermoor as in dieselfde tydperk in 2015.

Plaasaanvalle het met 39% toegeneem van 131 to 183. Dit is 183 aanvalle in die 182 dae, net meer as een per dag.

Volgens die TLU SA was daar sedert 1990  1 824 plaasmoorde en 3 931 plaasaanvalle.

Van die slagoffers was 1 170 boere, 491 ‘n direkte familielid, 141 werkers en 22 besoekers.

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens

Vir die 2014-’15-boekjaar waarvoor die finansiële state eers gedurende September 2016 afgehandel is, het die lugdiens ‘n verlies van R4,7 miljard gely.

Vir die 2015-‘16 boekjaar was daar ‘n verlies van R1,8 miljard. Die totale staatswaarborge wat toegestaan is, is R19 miljard. Sedert 2005 is goue handdrukke van meer as R22 miljoen aan uitvoerende en finansiële hoofde betaal.

Tans is daar tussen agt tot tien banke wat lenings aangebied het en tussen einde September 2016 en vroeg in 2017 sal tussen R4 miljard en R5 miljard van daardie lenings terugbetaalbaar wees.

As staatswaarborge verwyder word, sal die SAL (wat ‘n staatsbate is) tegnies insolvent wees.

Tog is die onbevoegde Dudu Myeni, ook bekend as Dudu Myeni Zuma, heraangestel as SAL-voorsitter vir ‘n verdere 12 maande.

Hierdie is ‘n duidelike skuif deur Zuma om nie die SAL se kapasiteit uit te bou nie, maar om eerder die SAL te melk om soveel as moontlik geld daaruit te maak vir eie gewin. Dit is hoekom Dudu Myeni riglyne van die tesourie geïgnoreer het en voortgegaan het om vliegtuie by Airbus te bestel al kon die SAL dit nie bekostig nie.

 Eskom

Die daadwerklike risiko dat die land se elektrisiteit binne jare gaan opraak, keer Eskom nie om nou al vir reusetoenames in sy reeds kolossale salarisrekening te beplan nie.

Eskom beoog om sy besteding aan salarisse oor die volgende drie jaar met R10 miljard op te stoot. Dan sal die gemiddelde salaris by die kragreus R68 300 per maand per werknemer wees.

Gedurende 2014 was die gemiddelde salaris in die ganse Suid-Afrika R8 134.

In ‘n voorlegging aan die Nasionale Energie-Reguleerder (Nersa), twee jaar gelede, het Eskom bereken dat hy teen 2017-’18 gemiddeld sowat R820 000 per jaar aan sy werkers sal betaal.

Die rede waarom die gemiddelde salaris van werkers so hoog lyk, is omrede die topbestuur sulke reuse pakkette kry. Die laags besoldigdes trek maar swaar.

Luidens Eskom se jaarverslag vir 2014 het die verskaffer se drie top-amptenare saam R24,4 miljoen in die finansiële jaar 2013-’14 verdien.

Volgens die vaardigheidsverliese van Januarie 2010 tot Desember 2014 blyk dit dat Eskom te veel betaal om die verkeerde werknemers te behou. Altesaam 3 297 mense met skaars vaardighede het in die tydperk die diens van Eskom verlaat.

In April 2015 het Lynn Brown, minister van openbare ondernemings, op vrae in die parlement bevestig dat 3 716 poste vir vaardiges nie gevul is nie. Terselfdertyd probeer die verskaffer om teen 2020 sy aantal swart bestuurders van 62% tot 88,9% te verhoog om nuwe stukrag aan sy beleid van regstellende aksie te gee.

 Die SAUK

TV-kykers skuld die SAUK R32,5 miljard aan agterstallige lisensiegeld en dit gaan minstens R168 miljoen rand kos om dit in te samel.  Dit terwyl die SAUK se geldsake juis beroerd is.

Die SAUK het in die 2014-’15 boekjaar ‘n verlies van R401 miljoen gely. In die laaste boekjaar het die SAUK ‘n verlies van R411 miljoen gely.

Hierdie enorme verliese vind plaas onder die leiding van die ongekwalifiseerde SAUK bedryfshoof Hlaudi Motsoeneng, wie vir die jaar tot 31 Maart 2014 R2,87 miljoen betaal is, luidens die SAUK se jaarverslag. Die daaropvolgende jaar het Motsoeneng R3,78 miljoen verdien nadat hy vir homself ‘n R1 miljoen verhoging gegee het. Reeds gedurende 2015 het Motsoeneng meer as Jacob Zuma verdien.

Intussen is Hlaudi Motsoeneng verwyder vanuit die pos as bedryfsbestuurder, weens politieke druk, maar daar is alreeds sprake dat Motsoeneng weer in 2017 as die SAUK se bedryfshoof aangestel gaan word en ‘n bonus van R33 miljoen oor ‘n tydperk van drie jaar betaal gaan word. Dit alles vir ‘n man wat nie eers matriek geslaag het nie en suksesvol ‘n staatsbate in die grond in bestuur het.

Die SA Poskantoor

Die finansiële treurmare by die Poskantoor duur voort nadat hy ‘n verlies van R1,1 miljard vir die boekjaar tot einde Maart bekendgemaak het.

Bykomend tot ‘n noodpakket van die staat van R650 miljoen het die Poskantoor hom uit die moeilikheid uit geleen in hierdie boekjaar te danke aan ‘n staatswaarborg van R2,7 miljard. Die instelling verloor egter steeds gemiddeld meer as R120 miljoen per maand. Met die huidige lenings wat meer is as R3 miljard, en met dalende inkomste, moet die vermoë van die Poskantoor om hierdie lenings terug te betaal, in twyfel getrek word.

Die staatsbeheerde instelling se state wys dat sy inkomste verder gedaal het. In die boekjaar tot einde Maart het dit met 9% van R5,12 miljard tot R4,68 miljard gedaal.

Die Poskantoor het ook in die vorige boekjaar ‘n verlies van R1,4 miljard gely.

Een van die Poskantoor se skuldeisers het in Mei 2015 aansoek gedoen dat hy finaal gelikwideer word.

Die maatskappy Prime Invest van Kaapstad sê die Poskantoor skuld hom meer as R8 miljoen vir vervoerwerk.

Volgens Prime Invest betwis die Poskantoor nie die skuld nie. Die likwidasie-aansoek sou op 25 Januarie 2016 in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria aangehoor word, maar die Poskantoor het toe gevra dat die aansoek onbepaald uitgestel word.

Hierdie is slegs een van honderde finansiële eise wat teen die Poskantoor ingestel word terwyl die Poskantoor van tyd tot tyd geen diens lewer nie as gevolg van stakings, tekort aan brandstof, posseëls en selfs ‘n tekort aan ink en papier. ‘n Aantal poskantore, 221 om presies te wees, is toegemaak weens uitstaande huurgeld.

Die Poskantoor toon al die tekens van ‘n bankrot maatskappy, wat net soos die ander staatsinstellings, deur die belastingbetaler aan die gang gehou word.

Die 2016 Munisipale Verkiesing en Rassisme

“Wit mense het van rassisme ‘n beleid gemaak. Daar bestaan nie iets soos swart-op-wit rassisme nie. Rassisme is Wittes wa neersien op swart mense. Die huidige vloed van rassisme is bloot swart mense se reaksie op geslagte van diskriminasie, dis in hul bloed, en 22 Nuwe Suid-Afrika-jare kon onmoontlik apartheid en die vroeëre Engelse weergawe, segregasie, afwas”.

Dit is die woorde van dr. Albertina Luthuli, die dogter van die oud ANC-leier en Nobelpryswenner Albert Luthuli. En die ANC het gedurende die munisipale verkiesing die rassismeperd holrug gery in ‘n desperate poging om stemme te werf.

Dit het gelei tot verskeie sosiale media-uitsprake waarin vervolging ingestel is teen Blankes, soos die Penny Sparrow-geval. Sparrow is met R150 000 beboet en in ‘n kriminele hof skuldig bevind aan Crimen Injuria omrede sy morsige Swartes op ‘n Natalse strand met ape vergelyk het.

Benny Morota, ‘n dosent by Unisa, het egter reeds op 7 Januarie 2016 op sosiale media Witmense kokkerotte genoem en gesê hy haat Witmense. Verder het hy gesê dat Witmense moordenaars is en dat hulle “tyd” vinnig nader kom om te betaal met hulle wit velle. Morota doseer egter steeds lustig voort en sal in die ANC-tradisie seker ook binnekort bevordering kry.

Die 2016 munisipale verkiesings is gekenmerk deur geweld, intimidasie en vals beloftes.  Die rede daarvoor is dat leiersposte in die ANC as regerende party deesdae geassosieer word met kits rykdom. “As jy toegang tot die ANC het, is jy feitlik verseker van kitsrykdom of die akkumulasie daarvan”.

Jacob Zuma het egter nog petrol op die munisipale verkiesingsvuur gegooi toe hy Thoko Didiza as burgemeesterskandidaat vir Pretoria aangewys het. Die aankondiging het gelei tot grootskaalse onluste in Pretoria.

Zuma was egter oorhoops daarmee om Didiza as burgemeester in Pretoria aan te wys, want hy het geglo sy is daartoe in staat om sy kwynende magsposisie in die ANC in die PWV te herstel sodat hy sy stempel op die volgende leierskonferensie van die ANC in Desember 2017 kan afdwing.

Die ANC en die Nasionale Demokratiese Revolusie

Maar ten spyte van al die chaos en die ANC se swakker vertoning by die munisipale stembus, bly die ANC vasbeslote om sy revolusie te voltooi.

By die ANC se onlangse beleidskonferensie het Jacob Zuma dit reguit gestel dat dit die doel van sy party is om in Suid-Afrika ‘n kommunistiese diktatuur te skep as die onvermydelike slotsom tot sy Sowjet-geïnspireerde Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR).

Die NDR bied, volgens die SAKP, die reguitste pad na ‘n sosialistiese en dan kommunistiese toekoms vir Suid-Afrika. Oor die algemeen glo die ANC dat hy nou genoeg beheer het om te kan voortgaan met radikale ekonomiese transformasie in hierdie tweede fase van die NDR.

In 1934, op die Nazi-party se sesde kongres, het Wagner, een van Hitler se ministers, die volgende gesê: “Geen revolusie kan ewig aanhou sonder dat dit tot algehele chaos en anargie lei nie. Net soos die wêreld nie van oorloë kan bestaan nie, kan nasies nie van revolusies bestaan nie”.

Die anargie en wetteloosheid wat Suid-Afrika tans beleef, is ‘n direkte uitvloeisel van ‘n onafgehandelde en halflewende revolusie wat dit moontlik maak vir anargiste om in te beweeg.

Teen die einde van 2015 het Jacob Zuma ‘n blatante aanslag op Suid-Afrika se stabiliteit en ‘n skaamtelose aanval op een van die land se belangrikste instellings geloods toe hy Nhlanhla Nene as minister van finansies vervang het met Des van Rooyen. Van Rooyen was ‘n baie swak derdevlak regeringsamptenaar in ‘n sukkelende munisipaliteit.

Die skok-aankondiging het ‘n dramatiese effek op die rand gehad wat binne 30 minute van R14,60 tot R15,39 teenoor die dollar verswak het. Ontleders was dit eens dat die kabinetsverandering nie op ‘n slegter tyd kon gekom het nie omdat Suid-Afrika in kredietgraderingsagentskappe se visier is. Boonop is die land se skuldvlakke besig om toe te neem en bly groeivooruitsigte swak.

Die besluit van Zuma getuig van ‘n kombinasie van naïwiteit en arrogansie en dat hy alle kontak met Suid-Afrika se finansiële realiteite verloor het.

Die konstitusionele hof het intussen bevind dat Zuma die Grondwet ondermyn het deur sy hantering van die openbare beskermer se Nkandla verslag, en die hooggeregshof het bevind dat dit irrasioneel was om 783 klagtes van rampokkery, korrupsie en bedrog in 2009 teen Zuma terug te trek. Zuma is ’n verleentheid vir die land en bied geen bewyse van ‘n dienende leierskap-styl nie; dit is eerder selfdienend.

Selfs Ronnie Kasrils, ‘n eertydse MK “comrade” van Zuma, beskryf Zuma soos volg: “Zuma is ‘n korrupte individu en die ANC is ‘n hoogmoedige, arrogante regerende party wat die staatskoffers en rykdom van die land plunder en dink hy kan met moord wegkom”.

Gedurende Oktober 2015 het die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) sy Oktober-wêreldverslag uitgereik waarin hy Suid-Afrika se groeivooruitsigte sedert sy Julie-raming tot 1,4% verlaag het ― en 2016 se groei was selfs tot so laag soos 1,3% geraam.

Die IMF het in sy Oktober-verslag vyf hoofkwessies genoem wat volgens hom die rede vir Suid-Afrika se swak ekonomiese vooruitgang is, naamlik

  • Kragbeperkings,
  • Die behoefte aan onderwyshervorming,
  • Arbeidskonflikte,
  • Die behoefte dat markte hul mededingendheid en produktiwiteit verhoog,
  • Die behoefte aan beter dienslewering.

Ook in Oktober 2015, kort na die vrystelling van die IMF-verslag, het die ANC sy hoofraadsvergadering gehou. Die ANC HRV het natuurlik nie een van die IMF-voorstelle bespreek nie, en het, inteendeel, die HRV se ekonomiese komitee wat ten doel het om ekonomiese groei te stimuleer, uitgeskel omdat geen vordering met vroeëre beleidsbesluite gemaak is om ‘n nasionale gesondheidsdiens en ‘n omvattende maatskaplike sekerheidsplan te vestig nie.

Tydens dieselfde ANC-hoofraadsvergadering het Jacob Zuma die vergadering geskok met nuus dat die ANC-lidmaatskap met meer as 400 000 lede gedaal het. ANC-leiers tob egter nie te veel oor wat die werklike redes vir die agteruitgang kan wees nie. Die ANC het die brandmerk dat hy ‘n kortpad na selfverryking en selfbevordering bied, want ’n ANC-lidmaatskapkaart is dikwels ‘n paspoort na onverdiende rykdom.

Hierdie afname in ANC-lidmaatskap kwel Zuma nie, want kort voor die 2016-munisipale verkiesings het hy weer sy gunsteling stemwerfwapen uitgeruk: Ras. En sy teiken was weer eens Witmense.

“Witmense is verantwoordelik vir die armoede van swart mense” en “Witmense is die onderdrukkers” en “ons kan nie regeer word deur die nasate van apartheid nie” en dan die belangrikste verwysing na Witmense as, ”‘n slang is giftig en gee slegs geboorte aan nog ‘n slang”.

Die EFF

Die openlike rassistiese EFF met sy militante struktuur en arrogante leier Julius Malema, het gedurende die afgelope munisipale verkiesings, net soos die ANC, rassisme en vals beloftes van rykdom aan die kiesers gemaak om stemme te werf.  Die party wat bekend is daarvoor as ‘n party wat opsweping en anargie gebruik om steun te werf, het tydens die verkiesing daarin geslaag om sy voet in die deur van verskeie munisipaliteite te kry.

Die EFF het verklaar dat hy in munisipale gebiede waar hy regeer, grond gaan terugneem en herverdeel.  Die EFF verklaar verder dat hy nie sal betaal vir gesteelde grond nie.

Die uitsprake kom te midde van kritiek uit sekere geledere oor die Wetsontwerp op Onteiening, wat ‘n nuwe wetsraamwerk vir grondonteiening skep.

Volgens die EFF gaan die wetsontwerp nie ver genoeg om die “koloniale misdaad wat gepleeg is, op te los nie”. Grondeienaars moet besef dit is onaanvaarbaar om groot stukke eiendom te besit terwyl ‘n menigte mense langsaan krepeer van ellende ― aldus die EFF.

Vir die EFF beteken mededinging in die munisipale verkiesing ook mededinging oor grond. Die party wil munisipale verordeninge skep wat grond sal onteien vir alle inwoners vir residensiële, nywerheids- en landboudoeleindes.

 Die Demokratiese Alliansie

Die DA (met sy swart leier) het, volgens DA-standaarde, goed gevaar in die afgelope munisipale verkiesings waar die DA dit reggekry het om deur koalisie-regering die ANC te ontsetel in verskeie munisipaliteite en metropole.

Mmusi Maimane, die DA-leier, wat ook getroud is met ‘n wit vrou, het onlangs uitsprake gemaak waarin hy blanke ondersteuners versoek om met Swartes te verbaster.

Deel van die DA se verkiesingsveldtog was ook die erkenning dat die DA, indien hy aan bewind sou kom, die grondroofproses sal versnel om die sogenaamde ongeregtighede van die verlede te herstel. Swart Ekonomiese Bemagtiging en diskriminasie teen Blankes sal dus voortgaan onder ’n DA-regering.

Die DA roem daarop dat hy minder korrup is as die ANC, maar die DA se grondwet en doelwit verskil nie veel van dié van die ANC nie.

Blankes wat dus vir die DA stem, kan net sowel vir die ANC stem.

Die Vryheidsfront +

Die VF+ onder leiding van dr. Pieter Mulder, wat al gedien het as adjunk-minister in ’n ANC-kabinet, het die stryd vir Afrikanerselfbeskikking finaal gewonne gegee.

Die VF+ veg nou die stryd vir oorlewing van alle minderheidsgroepe in Suid-Afrika, maak nie saak van watter ras of geloof nie. Die VF+ het tydens die verkiesing sy ware kleure gewys wat dit duidelik maak dat hy nooit werklik gestreef het na Afrikanerselfbeskiking nie.

Tydens die afgelope munisipale verkiesings het die VF+ dit reggekry om verskeie Kleurling-kandidate verkies te kry in munisipaliteite waar hy in koalisie moet saamwerk met vyandige politieke partye soos die DA en die EFF.

Tydens die munisipale verkiesings van 2006 het die VF+ altesaam 94 140 stemme getrek. Tydens die 2011 verkiesings het VF+ steun gedaal en het die VF+ net 53 931 stemme gekry.

Met die hulp van veelrassige ondersteuners het die VF+ in 2016 se munisipale verkiesings egter weer gegroei en het hy 113 288 stemme gekry.

Vir die VF+ weeg dit swaarder om as politieke party in ’n ANC-bestel te oorleef, as om die stryd te voer vir Afrikanernasionalisme.

 

PJ Joubert, Voorsitter

FJ van Graan, Adjunk-voorsitter

 

 

One thought on “Die HNP se Jaarverslag oor politieke gebeure in 2016”

  1. ‘n Baie knap verslag, dankie. Mens staan verstom oor hoe vinnig sake in Suid-Afrika skeef loop; en dit gebeur op byna elke terrein. Een Afrikanerleier (ek verswyg liewer sy naam) het gekla dat Afrikaners na 1994 gedink het Swartes kan nie die land regeer nie; hy sal egter nog die bewyse moet bring dat Swartes wel die land doeltreffend kan regeer. Om goed te regeer beteken nie net om in posisies te sit en geld te verdien of te bestee nie. Dit beteken om jou pligte behoorlik na te kom as regeerders van die land, tot voordeel van die land.

Comments are closed.