Dr HF Verwoerd op 12 Desember 1961: Die beleid van skeiding!

hf-verwoerd-3

Wanneer daar vandag oor die lewe van dr HF Verwoerd gepraat word, word sy naam deurentyd verbind aan die beleid van apartheid, of afsonderlike ontwikkeling. In die mees neerhalende terme word dié beleid dan veroordeel sonder dat dit enigsins in besonderhede verduidelik of bespreek word. Die persepsie word geskep dat die beleid van skeiding ’n bose en verwerplike beleid was. In hierdie uiteensetting deur dr Verwoerd self, word in die eenvoudigste taal verduidelik wat die motivering vir die beleid was en hoe dit toegepas sou word. Lesers kan self oordeel nadat hulle hierdie uiteensetting gelees het. Dit kom uit ’n toespraak wat dr Verwoerd voor die Raad vir Kleurlingsake in Kaapstad gehou het op 12 Desember 1961. Die beleid word eenvoudig en verstaanbaar oorgedra – in die lig van agitasie destyds dat die Kleurlinge met die Blankes sou moes integreer, ’n aandrang wat veral deur die redakteur van Die Burger bevorder is.

In die volgende toespraak motiveer dr HF Verwoerd die skeidingsbeleid op meesterlike wyse by geleentheid van ’n vergadering van die Raad vir Kleurlingsake op 12 Desember 1961. Die toespraak is gelewer te midde van oproepe tot integrasie met die Kleurlinge en die verwydering van sekere apartheidsmaatreëls. Dr Verwoerd is aan die woord:

Ek is baie bly oor die geleentheid om met hierdie Raad te kan kom saampraat oor die toekoms van die Kleurling-gemeenskap. Ek wil ook graag die Raad bedank vir sy samewerking tot dusver. Dit is nie maklik vir enige raad om binne ’n jaar of twee aansien te kry nie, veral nie as die begin, soos noodwendig die geval moet wees, onvolmaak is nie. Dié Raad moes baanbrekerswerk doen en doen dit nog. Dit het ’n nuwe tydvak ingelei… Die probleme t.o.v. rasseverhoudings in Suid-Afrika kan nie sonder welwillendheid aangepak word nie. Ons benader hulle in dié gesindheid. Ons moet eerlik teenoor onsself wees en die feite nugter sien, dan alleen sal ons die probleme kan oorwin. Vriendskap kan beste bestaan waar daar die gesindheid van goeie buurskap is. Op dié wyse is daar geen rede waarom mense nie naby mekaar kan lewe nie wat in verskeie opsigte van mekaar verskil. Dit hang net af hoe die verskille benader word. Dit is ook nodig dat begryp word dat daar ’n verskil is tussen differensiasie en diskriminasie.


Ek wil ’n paar van die feite noem waaroor ons nugter moet wees. Ons landsbevolking bestaan uit vier verskillende groepe: die Blankes, die Kleurlinge en twee ander groepe met wie ons nie nou te doen het nie. Die verskille tussen party groepe is baie groter as tussen ander, maar as basiese werklikheid moet aanvaar word dat ons verskil. Dit hoef nie ’n onaangename of lelike feit te wees nie. Dit hoef nie daartoe te lei dat die een groep neersien op die ander nie. Dis net een van die feite van die lewe wat in baie dele van die wêreld bestaan. Selfs waar bevolkingsgroepe nie baie van mekaar verskil nie, is die matige verskille byna oral vir hulle genoeg rede om hul bestaan as aparte nasies of state te soek. Hoeveel te meer sal dit die geval wees wanneer die verskille groter is?
’n Tweede feit wat erken moet word, is dat in Suid-Afrika – as gevolg van ons ontwikkelingsgeskiedenis – die Kleurling in ’n posisie van algemene ondergeskiktheid teenoor die Blanke was. Só ’n groepsverhouding hoef nie net so te bly voortbestaan nie, maar rekening moet daarmee gehou word. Dit is ’n struikelblok tot naasbestaan, want dit neem tyd en geduld om die langer geskiedenis van ondergeskiktheid te oorwin.

MENSWAARDIGHEID

Nog ’n feit wat in gedagte gehou moet word, is die kwessie van menseregte, goeie behandeling, billikheid, reg en oordentlikheid tussen groepe. Hierdie deugde word nie net gevind in ’n politieke eenheidstaat of politieke eenwording soos sommige meen nie. ’n Mens kry soms des te beter noue samewerking en aanknopingspunte wanneer mensegroepe wat verskil in twee strome langs mekaar beweeg. Menswaardigheid kan makliker bereik word wanneer daar naasbestaan is en nie deurmekaarbestaan nie.
’n Verdere feit waarmee ons rekening moet hou, is die getalle van die verskillende groepe in die land. ’n Mens kan dit nie wegpraat nie en ook nie die uitwerking wat dit het op die verskillende groepe se denke en vrees nie. Ook dit maak die probleme baie moeiliker.
Met hierdie feite as agtergrond kan gevra word hoe moet nou opgetree word om ’n eerlike en gesonde oplossing te kry. Daar is in werklikheid net twee beleidsrigtngs waarin vorentoe beweeg kan word. Die een is dat al die mense kanse en regte deurmekaar kry, dus in ’n gemengde gemeenskap. Die ander is dat almal net so hul kanse en regte kry, maar naas mekaar, dit wil sê apart. Die moraliteit van die twee rigtings verskil nie. In albei gevalle word gesoek na almal se kanse en regte. Laat dit verstaan word as die uitgangspunt, naamlik dat die strewe van almal wat na ’n aantreklike toekoms vir Suid-Afrika soek, is om aan almal hul regte te gee en goeie vooruitsigte.

VERANTWOORDING

Ek het self ernstig verantwoording probeer doen oor die vraag of die voorstaanders van algehele eenwording van die verskillende rasse geregtigheid en billikheid kan laat geskied aan almal. Ek is sielsoortuig daarvan dat integrasie in ’n land soos Suid-Afrika eenvoudig nie kan slaag nie. As mens rekening hou met die verskille tussen die gemeenskappe, met die strominge in die wêreld en in Afrika, met die begeerte onder sommige Bantoe om alleenheerskappy oor Suid-Afrika te voer, dan kan ek nie insien hoe ons in ’n gemengde gemeenskap of staat vrede kan verkry nie. Dit lê in die sielkunde van die mens en in die gees van mededinging dat elkeen strewe om die meeste vir homself en sy soort te probeer verkry.
Hoe kan dan langs die weg van integrasie reg gedoen word aan elke groep met inagneming van die peil van die groep se gemiddelde ontwikkeling en van die groep se regte op, of binne, die land? As die beginsel van “een man, een stem” aanvaar word, of deur integrasiemetodes uiteindelik tot stand kom, moet dit uitloop op Bantoe-heerskappy. Die getalle maak dit onvermydelik, selfs al sou die Bantoegroep geen ander noodsaaklike eienskap vir heerskappy hê as getalle nie. Dit mag baie billik lyk in terme van die hantering van indiwidue, maar sal dit billik wees teenoor die ander groepe? Sal dit regverdig wees (en ek vra dit aan u as Kleurlinge) teenoor die Blankes wat soveel gedoen het om hierdie land op te bou, en wat die Bantoe uit ander dele afkomstig in allerlei opsigte versorg het en daardeur verhoed het dat hulle uitgesterf het of mekaar uitgeroei het? Ek soek billikheid vir alle groepe en nie net billikheid vir een groep ten koste van die ander drie nie.

GEVARE VAN VERMENGING

Die Kleurlinge moet hulleself afvra wat ’n beleid van ’n gemengde gemeenskap vir hulle sal beteken op alle terreine van die lewe. Sal hulle, sonder enige beskerming, met die agtergrond van die kennis en besittings wat hulle het, in gelyke mededinging met die Blanke vinnig kan vorder? Enkelinge sal kan uitstyg terwyl die Blankes nog in so ’n gemengde gemeenskap die bewind in hande het. Die grootste deel van die Kleurlinge, die massa aan wie ek in hierdie raad moet dink, sal agterbly. Sal hulle in so ’n gemeenskap veel kanse tot vordering kry, al is die skyn van gelykheid daar? Die eerlike antwoord is nee.
Ek wil egter die posisie ook anders stel. Wat gebeur as die Blankes in so ’n eenheidstaat die houvas verloor? Wie voer dan die bewind? Nie die Kleurlinge nie, maar die Bantoe. Ek wil die Bantoe as groep nie afhaal nie, want ek moet vir hulle ook geregtigheid soek. Die feit is egter dat die ervaring in Afrika bewys dat as die Bantoe die gesag oor die land verkry, dit noodwendig lei tot die diktatuur van ’n klein groep polities-belangstellendes onder hulle. Die Bantoe-massas sal onder hulle onderworpe wees en miskien veel swaarder onder hulle kry as die swaarkry wat beweer word hulle onder die blanke bestuur ervaar.
Die Kleurlinge moet hulself dus afvra of hulle in so ’n gemengde gemeenskap werklik veel kans sal verkry. As ek ’n Kleurling was, sou ek ook geen troos vind in al die plannetjies wat verskillende partye maak om konstitusies op te stel wat nie een man een stem sal gee nie, maar die verteenwoordiging van groepe in die Parlement beoog, hetsy as rassegroepe of volgens beskawingstoetse. Dit is maklik om sulke planne te maak wat op papier lyk of dit  vir elke groep kanse en regte gee, maar so werk sake nie in die praktyk uit nie.

GETALLE SAL DIE DEURSLAG GEE

In ’n gemengde gemeenskap sal die druk en die eise van die groep met die grootste getalle die deurslag gee. Dit is onvermydelik, ons sien dit in die wêreld om ons. In so ’n gemengde staat kan daar nie reg geskied aan al die groepe nie. Die ander word uitgedruk of ingesluk…
My standpunt is dus dat in teenstelling met hierdie integrasierigting, Suid-Afrika die ander beleidsrigting moet kies. Noem dit maar die vierstroombeleid. Dit is die enigste wat oorbly. Daarvolgens aanvaar ’n mens dat daar vier gemeenskapsgroepe is wat verskil [verwysend na die Blankes, die Kleurlinge, die Indiërs, en die Bantoe – red.] en dan moet mens ook aanvaar dat elke groep sy eie selfstandigheid, sy kanse en bestuursbevoegdhede binne sy eie gemeenskap moet kry.
Vir die Bantoe wat hulle eie tuislande het, is dit redelik maklik om sake so te reël. Al kos dit tyd, kan mens ’n duidelike beeld vorm en mikpunte stel omtrent hoe selfbestuur aan hulle gegee moet word. In die geval van die Kleurlinge is dit nie so nie… Hoe kan die Kleurlingleiers egter help as hulle mense te ver vesprei is? Die fondament vir gelykwaardige opbou van die Kleurlinge as nasiegroep is om hulle bymekaar te bring in eie groepsgebiede. Daar moet nie net huise vir hulle gebou word nie, maar moet ook hul kerklike en sosiale eenheid bevorder word; en daar moet hulle al die dienste self lewer aan hulle gemeenskap. Hulle moet hul eie predikante, onderwysers, posmeesters, prokureurs, polisie, stadsowerhede, handelaars, klerke, ensovoorts, self lewer. Hoe meer die gemeenskap so bymekaar gebring word, des te groter kan die eenheid word waaruit al die werkgeleenthede sal groei.
■ [ Artikel uit Die Afrikaner, September 2016 ]