Die ekonomie as deel van ‘n Vryheidsplan

Rudolf Buitendach
Rudolf Buitendach

Geen vryheidsplan kan volledig wees sonder die ekonomiese ondersteuning om dit volhoubaar te maak tydens die verkrygingsfase en daarna in die uitlewingsproses daarvan nie.

Vryheid kan kortliks opgesom word as: “Om deur ons eie mense (volksgenote) regeer te word in alle fasette van ons samelewing, binne ‘n eie vrye selfstandige ekonomiese gebied met alleen seggingskep oor nasionale en internasionale aangeleenthede”.

As ons na die voorafgaande definisie van vryheid kyk, bring dit ons by verskeie belangrike komponente wat ‘n vereiste is vir volkome vryheid. Om maar enkeles te noem:

● “Deur ons eie mense (volksgenote) regeer te word” het geen verdere verduideliking nodig nie – volksvreemdes kan nie hiervoor kwalifiseer nie.

● “Alle fasette van ons samelewing” sluit die volle kultuuraspekte van ‘n volk in: sy geloofslewe, onderwys, gesondheidsdienste, veiligheid, regstelsel, wet en orde, verdediging, ekonomie, maatskaplike dienste en nog vele ander sake. Dit omvat die totale bestaan van die moderne Eerste Wêreld- mens.

● “Vrye selfstandige ekonomiese gebied” beteken dat binne so ‘n gebied die staat die middele moet hê om na die behoeftebevrediging van sy inwoners om te sien. Die uitbouing van die staat se dienslewering en sy infrastruktuur vorm ‘n belangrike deel daarvan. Dit sluit ook die vermoëns in vir die handhawing en uitbouing van ‘n volhoubare ekonomiese bestel, wat aan sy burgers die geleentheid bied om hulle ekonomiese strewes te verwesenlik.

● “Alleen seggingskap in nasionale en internasionale aangeleenthede” behoef ook minimale verdere verduideliking. Geen toestemming van enige buite regering of instansie nie, slegs internasionale bepalings soos wat op alle ander volke en state in die wêreld van toepassing is.

Indien ons fyn oplet na die voorafgaande beknopte samevatting van vryheid, is dit duidelik dat die ekonomie in omtrent elke faset daarvan ‘n belangrike rol te speel het. Daar kan selfs beweer word dat ekonomiese vryheid (selfstandigheid, onafhanklikheid) die hoeksteen vorm van vryheid. Dit geld, terloops, nie net vir state en volke nie, maar ook vir die individuele burger.

Ekonomiese afhanklikheid van die onderdrukker en sy lakeie

Ekonomiese verknegtig verlam die individu wat na vryheid streef. So ‘n persoon kan afgedreig word om sy vryheidstrewe en betrokkenheid te laat vaar, anders word sy lewensmiddele hom ontneem.

Dit is wel waar dat in ‘n geval van totale armoede mense tot opstand kan oorgaan, aangesien hulle niks meer het om te verloor nie, maar sodanige gevalle gaan gewoonlik oor lewensbehoeftes en nie oor vryheid nie. Dit is ook gewoonlik veel nader aan ‘n revolusie as die dieper en edeler vryheidsideaal. Die Boererepublieke se burgers was onafhanklik aan die begin van die vryheidstryd, alhoewel hulle daarna alles verloor het. Daaruit is ‘n les te leer, naamlik dat vryheid soms groot opofferings, ook op materiële gebied, mag vra.

Midde-in die realiteit van Afrika is dit natuurlik onrealisties om te verwag dat materiële goedere oor die lang termyn behou kan word. “Wie alles wil behou sal uiteindelik ook alles verloor”; in Afrika is hierdie waarheid die reël en nie die uitsondering nie. Opofferings wat nou vrywillig mag wees, word later gedwonge en veel groter.

Die huidige posisie van die Afrikaner op ekonomiese gebied

As ‘n mens vorentoe wil beweeg, is die eerste stap om te bepaal waar jy jou op die oomblik bevind. Die tweede stap is waarheen jy wil gaan – jou einddoel. Daarna eers kan die roete of pad bepaal word. Die vraag is dus: “Waar bevind die Afrikaner hom op die oomblik?” Dit kan kortliks soos volg opgesom word:

● Daar is ‘n sekere deel van die Afrikaner-sakeman wat hom uit sy volk “uitpresteer” het en nou ‘n internasionale mens is. So ‘n persoon was genl. Jan Smuts. Die Afrikaner-internasionalis beskik oor die finansiële vermoë om ‘n belangrike bydrae tot sy volk se vryheidstrewe te lewer, maar het sy rug daarop gekeer.

● ‘n Ander groep van die ekonomies suksesvolle Afrikaner sit in middelslag groot ondernemings waar hy vir hom welvaart geskep het. Hy klou aan sy welvaart en probeer dit verskans deur buitelandse beleggings en deur die land te verlaat en in die buiteland te gaan woeker. Die volksaak het hy afgeskryf as verlore of hy het sy volksentiment verloor. Die plaaslikes se volksidealisme word beperk tot die gesels en verontwaardiging rondom die braaivleisvuur. Die volgende dag is alles vergete en die verwerwing van nog meer welvaart is oorheersend. Laat ons dit duidelik stel, daar is geen verwyt of aanklag teen die verwerwing van welvaart nie, maar wel teen die opper-vlakkige materialisme, wat in ‘n selfsugtige volksvreemde uitkyk gesetel is. ‘n Groot deel van hierdie sake-ondernemings moes dan ook swig voor die ANC-regime se AAS-beleid (Aandele Afpersing vir Swartes). Dié groep Afrikaners is dus nie meer die volle eienaars van hulle swaarverdiende ondernemings nie. Gelukkig is hier ook nog enkele Afrikaners wat hulleself nog met hulle volk vereenselwig, maar ongelukkig veels te min.

● Nog ‘n sakegroep is die kleiner ondernemings. Hier is daar gelukkig heelwat meer persone binne die volkbehoudenis. Dit blyk dus dat ons op hierdie deel van ons volksgenote moet konsentreer. Natuurlik kan ons steeds bly hoop dat daar besinning by die voorafgaande twee groepe mag intree terug na hulle volk. (Dit sal natuurlik gebeur wanneer die voordeel by die volk reeds daar is, maar dan is hulle minder nodig as nou).

● Daar is ook die Afrikaners in senior bestuursposisies in groter maatskappye. Hier het die ANC-regime ongelukkig ook sy kloue ingeslaan met Affirmative Action (asseblief tog nie Regstellende Aksie nie; dit is semantiese bedrog!). Dit belemmer grootliks die indiensneming en loopbaanvooruitsigte van volksgenote. Gelukkig is daar nog persone in hierdie posisies wat medelye met hulle volksgenote het en geleenthede probeer skep. Hierdie groep persone het ‘n verdere waarde in die volkstryd  omdat hulle hul in die hoë inkomstegroepe bevind en hulle bydraes in finansiële terme en bestuurs-vernuf goud werd is vir hulle volk se vryheidstrewe. In hierdie groep vind ons heelwat groter getalle wat nog saam met die volk is.

● Daar is ook die belangrike werkerskorps onder die Afrikaner. Ons vind hulle in die posisies van staatsamptenare, klerikale personeel, assistente, vakmanne en vele ander posisies. Dit vorm die kern van die volk en gelukkig is hulle nog tot ‘n groot mate volksgesind. Dié groep se invloed moet nie onderskat word nie, want dit is waar die koopkrag en werkkrag gesetel is. Hulle persoonlike bydraes (tyd en geld) dra in ‘n groot mate by om ons volk se momentum te behou.

● Laastens is daar die deel van die volk wie se ekonomiese aktiwiteite tot stilstand gekom het en waarvan die getalle op meer as 600 000 geskat word. Hierdie volksgenote het ons ondersteuning nodig soos nog nooit tevore nie. Dit is ons Christelike plig en as ons dit verwaarloos, verloor ons hulle ook as volksgenote, want hulle verkeer in die uiterste ellende en morele verval is aan die toeneem. Binne hierdie bedreiging is daar gelukkig ook ‘n unieke geleentheid. Dit is naamlik dat dit aan ons as volk die geleentheid bied om hierdie mense in ons huishoudings te betrek met dienste soos reinigingsdienste, instandhouding, tuindienste en huishou-dingsbestuur. Om hulle hierby te betrek, gaan nie maklik wees nie, want dit het sogenaamde vernederende werk geword. Ons moet die persepsie regstel, hoe gouer hoe beter. Ons moet die slagspreuk “arbeid adel” vestig en uitleef. In Europa is dit nie vernederende werk nie.

Daar is ook ander terreine, buite die huishoudelike, waar ons afhanklik geword het van volksvreemde arbeid soos die vervaardigings-, landbou- en konstruksiebedrywe. Groter meganisasie, tesame met die intrekking van volkseie arbeid, kan selfstandigheid bevorder.

Ekonomiese kragte van die Afrikaner

In die vroeë dertigerjare van die vorige eeu het ‘n groot deel van die Afrikaner in armoede verkeer. Die meer gegoede Afrikaner was ook sy regmatige deelname aan die land se ekonomie misgun. Daar was besluit om in 1939 ‘n volkskongres oor die ekonomiese vraagstuk te hou met as tema: “Die Toekoms van die Afrikaner”.

Die kongres, later bekend as “Die Eerste Ekonomiese Volkskongres” het op 3, 4 en 5 Oktober 1939 in Bloemfontein plaasgevind in die teenwoordigheid van 757 afgevaardig-des onder die beskermheerskap van dr. JD Kestel en voorsitterskap van ds. WM Nicol. Dit was opmerklik hoeveel hoë profiel Afrikaners dit bygewoon en daarin opgetree het. Daar is vele nuttige lesse te leer uit die kongres en die daaruitspruitende aksies. Weens gebrek aan ruimte beperk ons dit tot die enkele woorde wat uit dr. HF Verwoerd se toespraak uitgelig is. Kort en kragtig kan dit soos volg aangehaal word:

Watter wapens kan die Afrikanerdom nou aanwend in hierdie groot stryd?”

Hy antwoord sy eie vraag dan deur te sê:

Op hierdie kongres word egter veral gedink aan die gebruikmaking van drie groot kragte wat ons volk self besit: ‘kapitaalkrag, werkkrag en koopkrag.

Ons kan sonder twyfel aanvaar dat ons vandag oor nog groter kragte op hierdie terreine beskik en wat wag om gemobiliseer te word op die vryheidspad.

Die ekonomiese strategie

Eerstens moet ons ons sterk punte identifiseer in dit wat ons voorheen bespreek het. Tweedens moet ons dit mobiliseer en aanwend as die ekonomiese bydrae tot ‘n vryheidsplan.

‘n Strategiese plan kan verskillende fases bevat. Dit het ook elemente wat minder vertroulik is en ander wat nie aan die groot klok gehang kan word nie. ‘n Verdere kenmerk is ook dat ‘n strategie aangepas moet word soos en wanneer nodig.

As ons as uitgangspunt die volgende belangrike rigtinggewende faktore uitlig en ons aksies en beplanning daarvolgens rig, bied dit ‘n goeie en praktiese vertrekpunt:

● Afrikaner-sterkpunte wat gemobiliseer moet word:

■ Kapitaalkrag, werkkrag en koopkrag.

■ ‘n Werkbare volksgesinde basis van klein tot middelslag sake-ondernemings.

■ Kundigheidspotensiaal van Afrikanerleiers op kulturele- en sake-gebied.

● Die voertuie ter uitvoering van die vryheidsplan (ekonomiese deel):

■ Die Oranje Sakekamers en Oranje Sake Instituut.

■ Oranjekas (die bank)

■ Nuusmedia soos Die Afrikaner, Radio Pretoria en ander streeks-koerante en -radiostasies. Veral ook die internet.

● Geleenthede:

■ Die verarmende Afrikaner se betrekking by volkseie arbeid.

■ Regstelling van die gevestigde wanpersepsies dat hande-arbeid vernederend is. Dit moet “veradel” word.

■ Die vestiging en uitbouing van volkseie skole.

■ Byeenbring van sake-ondernemings tot kragtige samewerking.

■ Koopkragbemagtiging deur geskikte koopverenigings te vorm.

■ Samevoeging van beleggings by volkseie ondernemings.

■ Ondersteuning aan volksgesinde sake-ondernemings.

■ Sakemanne het leierseienskappe en is meningsvormers. Hulle moet hierdie bates aanwend tot voordeel op die vryheidspad.

■ Nog vele ander geleenthede wat mag opkom of reeds wag.

Eerste tree op die vryheidspad

Die eerste stap op die vryheidspad verg min moeite en geld. Dit is slegs om die wilsbesluit te neem. Daarna volg die volgende deelname:

● Ondersteun volksgesinde sake-ondernemings.

 ● Neem eie volksgenote in diens.

● Gebruik u fooitjies se grote as regstelling in gevalle waar daar teen ons volksgenote gediskrimineer word met indiensneming. U volksgenote verdien die volle fooi. Hier word gedink aan motoroppassers, restourante, ens. Weier om volksvreemde straatsmouse en pamfletuidelers te ondersteun – dit bevorder in elk geval u veiligheid.

● Dring aan op Afrikaans – dit bevorder indiensneming van Afrikaners.

Verdere treë op die vryheidspad

Die volgende stappe verg ‘n bietjie meer moeite, maar deelname deur sakemanne en -vroue is noodsaaklik; waar moontlik ook ander volksgenote. Kom ons noem hierdie die “aansluitingsfase”, waar ons ons kragte moet saamvoeg in organisasies en verenigings.

Die Oranje Sakekamers (met leuse “Eie Ekonomie Eerste”) is reeds in die proses om oral gestig te word. Affilieer u onderneming daarby en word deel van die aksie in u dorp en die groter nasionale aksie.

Die Oranjekas is reeds gestig en verwag binnekort die finale goedkeuring van staatsweë om tot ‘n volwaardige bank te kan ontwikkel.

Koopkrag, op georganiseerde koöperatiewe basis, moet nog beslag kry. Dit is hier waar ons volksgenote wat ons onder die ekonomiese groepering, werkerskorps ingedeel het, se volkskrag lê. Die werk is baie, maar die arbeiders nie genoeg nie.

Daar rus ‘n dure plig op elkeen van ons om betrokke te raak en ons deel te doen. Ons sal uit ons gemaksone moet kom en deelneem. Die vryheidspad het nie praters nodig nie, maar daders. Dit is ‘n volk wat op trek is; op pad na vryheid en elkeen moet op daardie pad sy deelname lewer om aan die beweeg te kom en die momentum te behou sodat ons by die eindbestemming van vryheid kan uitkom.

Rudolf Buitendach