Herwinning van ons Vryheid

HNP Leier, Andries Breytenbach
HNP Leier, Andries Breytenbach

“Mnr Cloete, al die mooie beloftes wat hier gedaan is, smaak ons soos alsem in die mond. Ons het goed en bloed gegee om onder die gehate Britse vlag uit te kom, en al moet ons ook kaalvoet en blootshoof oor Drakensberg loop, sal ons nie onder dié vlag berus nie.”

“Julle het ons land binnegeval en dit afgeneem” het ‘n tweede vrou voortgegaan. “Julle het ons hawe gevat en toegelaat dat die Kaffers nog meer moorde pleeg. Julle het die Zoeloes op ons losgelaat nadat julle ons beskerming beloof het. Julle het ons vlag gevat. Ons swerf al jarelank rond. Ons voete is deurgeloop en ons is moeg van die swerflewe en ontbering.

Maar ons is bereid om nog vérder te loop. Ons is bereid om kaalvoet oor die berge te gaan, die vryheid of die dood tegemoet, liewer dan te buk onder ‘n regering wat ons behandel het soos die Britse regering.”

Die Vryheidsideaal

Dit was in 1843 die onsterflike woorde van twee Voortrekkervroue aan die Britse Kommissaris, adv. Henry Cloete, tydens ‘n vergadering van 400 Voortrekkervroue wat geprotesteer het teen die Britse anneksasie van die Republiek Natalia.

Die vryheid of die dood tegemoet, liewer dan te buk onder ‘n vreemde regering!”, was die ingesteldheid van ons voorgeslag toe ons volk nog in sy kinderskoene gestaan het.

Daardie paar woorde het uitdrukking gegee aan die vryheidsideaal van die Afrikanervolk. Dié ideaal het die gang van die geskiedenis van Suid-Afrika die afgelope twee eeue bepaal. Daarmee het die Voortrekkers verklaar dat die volkstrewe by hulle swaarder geweeg het as die eie lewe en blote ekonomiese oorlewing, of ‘n dag tot dag bestaan, ontdaan van die idealisme wat aan die volk dinamika gee.

Wát vryheid presies moes beteken, is reeds in die bekende Manifes van Piet Retief ondubbelsinnig uitgespel en deur die verloop van die geskiedenis so duidelik bevestig dat daar geen twyfel by enigiemand kan bestaan dat die Voortrekkers en hulle nageslag volkome soewerein in hulle eie vaderland wou wees nie. Daarvoor is die vryheidsoorloë geveg en het die volk die gevaar van uitwissing in die Tweede Vryheidsoorlog getrotseer. Die vryheidsideaal soos van die begin af verstaan en nagestreef, laat geen ruimte vir enige vorm van onderhorigheid of medeseggenskap oor die politieke en ekonomiese lotgevalle van die volk in sy eie vaderland nie.

Misleidende vryheidspropaganda

Om dus vandag voor te gee dat daar ander vorms van selfbeskikking vir die Afrikanervolk oorweeg kan of moet word, is drogargumente wat voorgehou word om ons in ‘n kompromis met die heersende Kommunistiese regime in te praat en sodoende die vryheidsideaal dood te maak.

Daar moet ‘n duidelike onderskeid getref word tussen volksvryheid en die beperkte seggenskap oor eie sake, wat die Vryheidsfront Plus misleidend “vryheid” noem.

In sy verkiesingsmanifes vir 2009 verklaar die VF+ onder die opskrif Vryheid met Geregtigheid:

Vryheid kan beskryf word as die vermoë en reg om self besluite te neem en uit te voer.

Soos vir die meeste Suid-Afrikaners staan vryheid ook vir die VF Plus sentraal in sy politieke denke.”

Maar watse soort “vryheid” propageer dié party?

Van volksvryheid in ‘n eie vaderland is daar geen sprake nie; trouens, die begrip volk kom hoegenaamd nie in die manifes voor nie.

Die VF+ beywer hom slegs vir seggenskap oor sekere sg. eie sake, en “wetgewende en uitvoerende bevoegdhede vir gemeenskaps-munisipaliteite” — dit wil sê, steeds ‘n vorm van magsdeling met die veertig miljoen Swartes in een gemeenskaplike vaderland. Dít wil die party vermag deur “in wetgewende liggame waar geen party meer as 50% setels hou nie, koalisies met ander partye te vorm.”

Herwinning van ons vryheid

Ons in die HNP beywer ons saam met ander vryheidsgesinde volksgenote vir vryheid soos ons gehad het toe Suid-Afrika in 1961 ‘n Republiek geword het.

Dié vryheid het ons volk in 1994 verloor toe die politieke mag in vreemde hande oorgegee is. Dit was nie magsdeling, soos hulle die volk probeer wysmaak het nie, dit was ‘n totale oorgawe van die mag aan ‘n vreemde volk, ‘n verlies van die Afrikanervolk se vryheid so volkome soos die verlies van ons vryheid was met die ondertekening van die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902.

Herwinning van ons vryheid is ‘n uitdaging en ‘n geloofsdaad wat, as dit verwesenlik word, in grootheid die groot momente in ons volk se geskiedenis, soos die Groot Trek, Majuba en die Tweede Vryheidsoorlog, sal ewenaar. Dit plaas die vryheidsgesinde Afrikaner, oftewel Boer, voor een van twee keuses:

(1) Wag tot die bestel in duie stort

Ons kan polities planloos voortploeter en ons inbeeld dat wanneer die bestel een of ander tyd in duie stort en grootskaalse chaos en geweld moontlik losbreek — ‘n soort vry vir almal-situasie — ons ons vryheid sal terugneem. Oor hoe dit moet gebeur, is die voorstanders van dié benadering vaag en oor die talle vrae wat so ‘n scenario na vore roep, word geswyg.

Niemand kan voorspel wanneer so ‘n ineenstorting sal plaasvind nie en wat presies die aard daarvan sal wees nie. Zimbabwe het egter ‘n goeie demonstrasie gelewer van ‘n ekonomie en demokratiese regering wat in duie gestort het. Geweld word deur die staat, dit wil sê die diktator en sy magsinstrumente, teen die burgery gepleeg, dog van ‘n algemene opstand en die soort chaos wat veronderstel is om aan teenstanders van die bewind die geleentheid te bied om die mag oor te neem, is daar nie sprake nie — miskien omdat Mugabe reeds vroeg in sy bewind tienduisende Matabeles, wat vir hom die grootste gevaar kon inhou, uitgewis het.

Dit is wensdenkery om te dink dat diegene wat ten tyde van ‘n “induiestorting” van die bedeling in Suid-Afrika die regeermag hou, eenvoudig net sal abdikeer om ‘n magsvakuum daar te laat wat deur die Witman gegryp kan word. Ons moet eerder te wagte wees dat die politieke maghebber so ‘n situasie sal benut om ‘n noodtoestand af te kondig, die grondwet op te skort en sy mag roekeloos te misbruik om enige teenstand te onderdruk.

Om passief te sit en wag totdat die bestel “in duie stort”, is uiters onverstandig, want as ons Blankes tydens ‘n toestand van chaos en wetteloosheid — wanneer eendrag, eenstemmigheid van doel en optrede, en duidelike leiding van die grootste belang sal wees — onder mekaar begin meeding en twis oor wie nou eintlik die leiers moet wees, wie se gesag aanvaar moet word, watter doelwitte nagestreef en watter strategie gevolg moet word, is dit ‘n seker resep vir verwarring, tweedrag en mislukking. Sulke omstandighede gee maklik geboorte aan allerlei blink en gladde “volksredders” wat meestal deur persoonlike ambisie, opportunisme en eiebelang gedryf word. Roep maar weer die generaals wat die volk sou red, in herinnering!

(2) Voer die verset verder — met ‘n Vryheidsplan

Van die belangrikste beginsels vir suksesvolle strydvoering behels die keuse (en hand-hawing) van die doelwit, offensiewe optrede, en ekonomiese aanwending van magte en hulpbronne.

Omgesit in politieke taal, beteken dit dat die vryheidsgesinde Afrikaner duidelike, haal-bare doelwitte moet formuleer. Dit gee vir ons koers, sodat ons doelgerig vir die bereiking daarvan kan werk. Om te volstaan met volksvryheid as ideaal, sonder ‘n plan om dit te verwesenlik, het wel tot gevolg dat ons almal op een of ander terrein van die volksakker besig bly, dog dit gaan mank aan fokus, koördinasie van poging en die doeltreffendste gebruik van die middele tot ons beskikking. Die gebrek aan sigbare vordering bring mee dat die breë massa volksgenote moedeloos raak. Volksvryheid lyk vir hulle onhaalbaar en mettertyd gryp die vryheidsideaal nie meer hulle verbeelding aan nie.

Offensiewe optrede in ons situasie beteken dat ons die inisiatief moet neem en oorgaan tot aktiewe handeling waardeur ons die gang van sake in ‘n rigting begin dwing.

Dit is in teenstelling tot ‘n benadering van te sit en wag dat die vyand die gang van sake dikteer, en ons telkens op hulle skuiwe reageer. In die parlementêre politiek van die vorige bedeling het laasgenoemde benadering gangbaarheid geniet, want toe het oppo-sisiepartye periodiek die geleentheid gehad om die regering by die stembus tot verantwoording te roep oor sy foute en swakhede. Die huidige bestel maak egter nie herwinning van ons volk se vryheid deur so ‘n modus operandi moontlik nie.

n Afrikaner Volksraad buite die bestel

In plaas van te sit en wag op ‘n induiestorting van die bestel, het die HNP ‘n ander weg gekies, naamlik om die verset wat ons sedert 1994 propageer — wegbly van die stembus — nou ‘n stadium verder te voer en die Volksraad Verkiesing Kommissie se inisiatief vir die daarstelling van ‘n Afrikaner Volksraad buite die bestel, te ondersteun. Dié Volksraad word met ‘n mandaat beklee om ons reg tot vryheid op te eis, en selfs af te dwing.

Daarstelling van ‘n eie owerheidsliggaam buite die konstitusionele bestel is waarskynlik een van die sterkste vorme van vreedsame en wettige verset waartoe ‘n volk hom kan wend. Dit open die weg tot verdere moontlikhede.

Op ons as Party se skouers plaas dit ‘n geweldige verantwoordelikheid om die saak met erns enduit deur te voer, anders sal ons die vertroue van die volk, wie se steun ons daarvoor vra en wat hul vertroue in ons stel om dit suksesvol deur te voer, vir goed verbeur. Ons kan die verantwoordelikheid alleenlik maar aanvaar omdat ons weet op watter fondament ons gebou is.

Die HNP is naamlik 40 jaar gelede in uiters moeilike omstandighede gestig téén die magtige Nasionale Party, wat ten tyde van ons stigting nog op die politieke en morele kapitaal wat dr. Verwoerd en sy voorgangers daargestel het, geteer het. Deur God se genade het die HNP daarin geslaag om daarna staande te bly teen die ergste denkbare weerstand en vyandigheid vanuit die openlik vyandige geledere, sowel as van wolwe in skaapsklere wat voorgegee het om hulle op dieselfde basis van nasionalisme as die HNP te stel.

Volkereg erken selfbeskikkingsreg

Ons volk se aanspraak op vryheid (selfbeskikking) word ondersteun deur die Volkereg se erkenning van volke se reg op selfbeskikking. Dit is ‘n onaantasbare reg wat ook vir die Afrikanervolk geld. Die beginsel is vervat in die VVO se Internasionale Verdrag oor Burgerlike en Politieke Regte wat soos volg bepaal:

Art 1: All peoples have the right of self-determination. By virtue of that right they freely determine their political status and freely pursue their economic, social and cultural development.

Die Verdrag bepaal voorts dat die ledestate “shall promote the realization of the right of self determination, and shall respect that right, in conformity with the provisions of the Charter of the United Nations” (art. 1.3). Dit wil sê, daar rus ‘n verpligting op ledestate, waarvan die Republiek van Suid-Afrika een is, om volke se reg tot selfbeskikking nie slegs te respekteer nie, maar die realisering daarvan aktief te bevorder. Hierdie verplig-ting word nog sterker uitgedruk in art. 2.2:

Where not already provided for by existing legislative or other measures, each State Party… undertakes to take the necessary steps… to adopt such legislative and other measures as may be necessary to give effect to the rights recognized in the present Covenant.”

Hoewel volkere se reg op selfbeskikking deur die internasionale gemeenskap erken word, sal hulle nie die inisiatief neem om enige volk se geskonde reg te herstel nie. Die verantwoordelikheid om sodanige remedie te verkry, rus vierkantig op die skouers van die volk self.

Dit behels ‘n proses waarvolgens die volk deur middel van ‘n demokratiese, vrye en regverdige verkiesing verteenwoordigers moet kies en met ‘n mandaat beklee om namens hom op te tree. Enige groep of party wat daarop aanspraak sou maak dat hy die volk verteenwoordig en namens hom handel, se aanspraak sal nie maklik aanvaar word nie. In dié verband kan ons ‘n les leer uit die geskiedenis van die Rehoboth Basters, namens wie drie groepe aanvanklik by die internasionale gemeenskap ‘n oor vir hul regte probeer kry het. Hulle is telkens teruggestuur met die boodskap om eers één verteen-woordigende liggaam te kry om namens hulle te praat, alvorens hulle daar aangehoor sou word.

Die gekose verteenwoordigers moet dan die volk se vryheid opeis by die regering wat sy reg skend, ongeag of die volk daardie regering as legitiem beskou of nie. Deur die eis aan die regering te stel, erken die volk nie eersgenoemde se legitimiteit nie, net so min as wat ‘n persoon wat sy gesteelde eiendom by die dief terugeis, die dief as wettige eienaar daarvan erken. Die Regering van die ZAR het dié optrede gevolg toe Shepstone se voorneme om Transvaal te annekseer, bekend geword het, deur in die Volksraad en in ‘n sterk bewoorde proklamasie teen sy optrede te protesteer.

Indien die volk nie daarin slaag om sy reg by die regerende owerheid herstel te kry nie, kan hy hom na die internasionale gemeenskap wend vir steun en/of bemiddeling. Die Boere se deputasies na die Britse en ander regerings is ‘n voorbeeld van dié optrede. Die mate van steun wat uit dié oord verwag kan word, sal van die krag van jou regsargument, die heersende internasionale klimaat en ander faktore wat ‘n invloed op die saak kan hê, afhang. Wat die reaksie uit dié oord ook al mag wees — deurdat die onderhawige volk die aanvaarde regspad loop, behou hulle hulle reg en baan hulle die weg vir die volgende stap, want “om reg te wees, is om ‘n mag te wees!”

Wanneer die voorgenoemde regspad uitgeput is sonder om sukses te behaal, ontstaan die reg tot eie optrede waarop die volk mag besluit, om hul reg af te dwing. Dit is dié reg wat die Boere in 1880 uitgeoefen het toe hulle hul eie regering herstel het nadat die Britse regering hulle finaal die deur gewys het. N.P. van Wyk Louw het dié gedagte treffend verwoord in Die Dieper Reg:

As jy ‘n trotse volk verkneg

Word ópstand teen die reg sy reg.”

Pad na vryheid is ‘n pad van stryd

Uit voorgaande is dit duidelik dat die pad na vryheid ‘n pad van stryd is waarby die ganse volk betrek moet word. Deur die proses om die saak te propageer, volksgenote daarvoor te wen en hulle as kiesers vir ons eie Volksraad te registreer, word die vryheidstrewe en volksgenote se geloof in die haalbaarheid daarvan, weer wakker gemaak. Dis soos ‘n vuur wat in die volksgemoed aangesteek word, want skielik begin dit tot die man op straat deurdring dat daar tóg iets is wat gedoen kan word en waaraan elkeen kan deelneem sonder om hom aan onwettige optredes skuldig te maak. Sodoende word ‘n verwagting geskep wat, as dit deur diegene by wie ons ons reg opeis, verydel word, ‘n gebelgdheid by die volk skep omdat ‘n reg wat universeel erken word, hom ontsê word. Eers wanneer daardie gemoedstoestand ontstaan, is ‘n volk nie meer bereid om nee vir ‘n antwoord te vat nie, en is hy gereed om die offers te bring wat deur die volgende fase van die stryd vereis mag word.

Dit is die pad van Christelike of te wel Gereformeerde verset, wat ‘n Christenvolk toelaat om teen die owerheid in opstand te kom nadat hy ‘n pad geloop het wat hy met sy Christelike gewete kan versoen. Eers dán voel hy hom geregverdig om tot aktiewe optrede, wat selfs opstand en oorlog kan insluit, oor te gaan, onder die leiding en gesag van ‘n volksowerheid wat hyself daargestel het.

Laat ons nie nou stilstaan om te tob oor die vrae en probleme wat op die pad vorentoe mag opduik, of daardeur ontmoedig word nie. Dit sal op hul tyd opgelos word. Die onmiddellike uitdaging is om hierdie saak onder die volk in te dra en elke vryheidsgesinde volksgenoot se steun daarvoor te wen. Dit doen ons in die vaste vertroue dat God ons volk hier in aansyn geroep het en dat Hy vir ons ‘n volksbestemming en –roeping het. Die stryd behoort aan Hom. Ons moet net ons plig doen.

AE Breytenbach