Die eerste Vryheidsoorlog en die Afrikanervolk

Dr Pieter Möller
Dr Pieter Möller

As nasate van die Protestante wat, na die 16de eeuse Kerkhervorming vanweë die vervolging deur die Rooms-Katolieke Kerk, vlugtelinge geword het en geloofsvryheid elders gaan soek het, loop die vryheidsdrang en godsdienssin soos ‘n goue draad deur die Afrikanervolk se geskiedenis.

Blyke hiervan kom by die bestudering van die geskiedenis van die Afrikanervolk reeds telkens gedurende die 17de en 18de eeu aan die lig. Ofskoon die verset wat daarmee gepaard gaan, weliswaar eers sedert die opstande van 1795 in Graaff-Reinet en Swellendam polities van aard was. Reeds die Groot Trek was ‘n baie duidelike aanduiding van ons voorouers se strewe om vry te wees. Na die Engelse anneksasie van Natal in 1843 het die meerderheid Voortrekkers nie berus nie, maar vryheid elders gaan soek.

Ook diegene, onder wie Andries Pretorius, wat eers wou kyk of die Engelse administrasie in Natal nie beter sou wees as aan die Oosgrens nie, het Natal uiteindelik in 1848 verlaat toe dit blyk nie die geval te wees nie. Vryheid is toe in die Trans-Oranje gaan soek, maar ook daar het die Engelse hulle agterhaal en in dieselfde jaar nog die gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier geannekseer en dit die Oranjerivier-Soewereiniteit genoem. Pogings onder leiding van Andries Pretorius om die Engelse anneksasie met die wapen teë te gaan, het ongelukkig by Boomplaats skipbreuk gely. As gevolg van onvoorsiene moeilikhede met die Basoetoes en ‘n gebrek aan geld was die Engelse genoodsaak om hierdie gebied ses jaar later, in 1854, aan die Voortrekkers terug te gee, met die gevolg dat hulle die Republiek van die Oranje-Vrystaat gestig het.

Die ZAR

Reeds twee jaar tevore is die onafhanklikheid van die gebied noord van die Vaalrivier deur Engeland erken; ‘n gebied wat sy tot op daardie tydstip nie geannekseer het nie en waarop die vryheidsliewende Transvalers hulle Zuid-Afrikaanse Republiek tot stand gebring het. Teen 1854 het dit dus gelyk of die Groot Trek uiteindelik geslaag het en die Voortrekkers ten einde laaste hulle duurgekogte vryheid in hulle eie state kon geniet. Helaas, hieraan sou oor die loop van die volgende dekades ‘n einde kom.

Die geskiedenis toon duidelik aan dat geen enkele faktor so ‘n oorheersend negatiewe invloed op ons volksgeskiedenis gehad het nie as die verderflike Britse betrokkenheid in Suid-Afrika. Vyf en twintig jaar na die sluiting van die Sandrivier Konvensie het die Engelse die hele proses probeer ongedaan maak omdat lord Carnarvon, wat toe die Britse Minister van Kolonies was, die ideaal gekoester het om die hele Suid-Afrika in ‘n federasie onder die Britse vlag te verenig. Dit sou beteken dat die twee Boere-republieke hulle onafhanklikheid sou moes prysgee, waartoe hulle uiteraard nie bereid sou wees nie. Omdat Carnarvon se pogings om die Republieke by ‘n konferensie met hierdie doel voor oë te betrek, nie vrugte afgewerp het nie, het hy besluit om van die dienste van Theophilus Shepstone, die Natalse Sekretaris van Naturellesake, gebruik te maak. Hy het Shepstone opdrag gegee om Transvaal te annekseer en belowe om hom in beheer van die gebied te plaas indien hy daarin slaag. Carnarvon was van mening dat indien Transvaal geannekseer word, die Oranje-Vrystaat uiteindelik ook noodgedwonge haar onafhanklikheid sou moes prysgee omdat sy dan deur drie Britse kolonies omring sou wees. Daarmee sou sy ideaal verwesenlik wees en sy naam in die annale van die Britse geskiedenis verewig word.

Allerlei skynredes is vir die anneksasie aangevoer, soos byvoorbeeld dat die Transvaalse regering inherent swak is, die land bankrot is, slawe aangehou en die Swartes onderdruk, mishandel en in aanvalsoorloë van hulle grond beroof, dat hierdie oorloë ‘n gevaar vir die Britse kolonies Natal en die Kaapkolonie inhou, dat die neerlaag teen Sekoekoenie ‘n gevaar vir die Blankes (wat Engelse onderdane insluit) en selfs vir die hoofstad Pretoria inhou en dat die ZAR gevaar loop om deur die Zoeloes aangeval te word. Aan die voorpunt van hierdie valse propaganda was die koerant van die Lydenburgse goudvelde, The Gold Fields Mercury en die Potchefstroomse The Transvaal Advocate. Hierby het Shepstone vanselfsprekend geesdriftig ingeval. Toe hy president TF Burgers op 20 Desember 1876 per brief laat weet dat hy as spesiale kommissaris van koningin Victoria na Transvaal kom om ondersoek te doen na sogenaamde “disturbances” het hy dan ook na sommige van hierdie sake verwys.

Shepstone na Transvaal

Shepstone het nie gewag op ‘n antwoord van Burgers, of op ‘n uitnodiging van hom om Transvaal te besoek nie, maar op vermetele wyse bloot vertrek en op 22 Januarie 1877 in Pretoria aangekom. Hy was vergesel van ‘n personeel van tien, wat twee magistrate, ‘n geneesheer, ‘n tolk, drie persone met offisiersrange (onder wie ‘n swaer van hom) en die bevelvoerder van die 25 berede polisie ingesluit het. Net buite Pretoria is hy op luisterryke wyse deur ‘n ereboog van sowat honderd mense, grotendeels Engelse, ingewag en ‘n adres aangebied. In die tyd wat gevolg het, het hy die President, die Uitvoerende Raad en verteenwoordigers van die Volksraad ontmoet. Op skynheilige wyse het hy voorgegee dat hy ‘n vriend is wat kom om te help om geskille uit die weg te ruim en brandende vraagstukke op te los en dit het president Burgers daartoe gebring om met hom saam te werk. Oor die werklike rede vir sy koms het hy vanselfsprekend soos die graf geswyg en het boonop gebruik gemaak van ‘n vervalste geloofsbrief wat die Britse Hoë Kommissaris in die Kaap en groot vyand van die Boere, sir Henry Barkly, moes skryf. Sy geknoei en intriges het geen perke geken nie. Voor sy koms reeds het hy die Zoeloes van Cetswayo op ‘n gereedheidsgrondslag geplaas met die doel om die Transvalers met hulle af te dreig. Ook met Sekoekoenie het hy agter die rug van die Transvalers geknoei en dit terwyl kort tevore vrede tussen die ZAR en hierdie Pedi-opperhoof gesluit is. Vanselfsprekend was hy in voortdurende verbinding met die Engelse element en met vyande en verraaiers van die onafhanklikheid. Hierdie feite word gestaaf deur die memorie wat die Volkskomitee twee jaar later aan koningin Victoria gestuur het waarin verklaar word dat Shepstone die Transvaal met “list, bedrog en bedreiging” geannekseer het. Die meeste Transvalers het eers ter elfder ure van sy ware motiewe bewus geword en dit het ongetwyfeld ook daartoe bygedra dat daar nie groter en gewelddadiger teenkanting van hulle kant was nie.

Pres Burgers waarsku

President Burgers het oënskynlik gouer as die meeste Transvalers agter die kap van die byl gekom en het sy Uitvoerende Raad en Volksraad gewaarsku om alles moontlik te doen om die onafhanklikheid te behou en om werklike swakhede wat Shepstone uitgewys het, uit die weg te probeer ruim. Hy het dan ook ‘n wysiging van die grondwet voorgestel waarin die volgende vier sake aandag moes kry: ‘n verandering aan die samestelling van die Uitvoerende Raad, hervorming van die regspleging, die totstandbringing van ‘n polisiemag en die daarstelling van distriks-, stads- en dorpsrade. Ook hierin was Burgers sy tyd vooruit, want daarvolgens sou onder meer die hoofde van Departemente sitting in die Uitvoerende Raad hê en sou dus die rol vervul van kabinetsministers soos in latere bedelings. Dit het ook voorsiening gemaak vir ‘n permanente vise-president, waartoe die Volksraad Paul Kruger op 7 Maart 1877 verkies het. Hierdie grondwetwysiging is bespreek tydens ‘n buitengewone Volksraadsitting wat vanaf 13 Februarie tot 8 Maart 1877 geduur het. Na aanvanklike teenkanting, het die Volksraad, nadat hulle die werklike bedreiging begin besef het, hierdie voorstelle op 7 Maart aanvaar, nadat Shepstone op 26 Februarie teenoor die voorsitter van die Volksraad, C. Bodenstein, verklaar het dat indien die ZAR nie ‘n doeltreffende regeringstelsel en vriendskaplike betrekkinge met die swart stamme kon waarborg nie “hij het land sou aanhechten.”

 Volksraad se opdrag

Op 8 Maart het die ZAR-Volksraad verdaag en dit aan die regering (die President en die nuwe Uitvoerende Raad) opgedra om die besluit van die vorige dag, wat daarop neergekom het dat met Shepstone in onderhandeling getree moes word in ‘n poging om die onafhanklikheid te behou, uit te voer. Dit is dan ook sedert 12 Maart gedoen, maar Shepstone was steeds met sy misleiding en agteraf geknoei besig. Op ewe onware wyse het hy in korrespondensie, veral na die anneksasie, met die Kaapse Hoë Kommissaris, die Britse Minister van Kolonies en die administratiewe hoofde van die Britse Koloniale Kantoor voorgegee dat Burgers en Jorissen met hom saamgewerk het in die anneksasie en dat die meerderheid van die Transvalers ten gunste van die anneksasie was. Ook ander Engelse het hierdie bewerings herhaal, met die gevolg dat Burgers later ten onregte deur van sy eie mense daarvan verdink en selfs beskuldig is, wat hom groot hartseer tot en met sy dood in 1881 besorg het. Hierdie bewerings word geloënstraf deur die feit dat die Staatsprokureur, dr. EJP Jorissen, wat toe maar ietwat meer as ‘n jaar in Transvaal was, na die verdaging van die Volksraad in ‘n uitvoerige memorandum, wat ongelukkig nooit gepubliseer is nie, op bekwame wyse al die redes wat deur Shepstone vir die anneksasie aangevoer is, een vir een grondig weerlê het. Hy het op grond van Shepstone se optrede en aanmatigende houding voorgestel dat alle onderhandelinge met hom onmiddellik gestaak moes word en dat in ‘n uitvoerige protesbrief (soortgelyk aan sy Memorandum, al het hy dit nie gesê nie) aan hom deur die ZAR-regering geskryf moes word waarin hy meegedeel word waarom dit gedoen word. Daarna moes ‘n proklamasie daaroor uitgereik word en so wyd moontlik onder die landsburgers versprei word. Hy het verder aan die hand gedoen dat sonder Shepstone se medewete twee afgevaardigdes na Londen gestuur moet word om by die Britse regering beswaar te maak. Alhoewel president Burgers, en na alle waarskynlikheid ook die Uitvoerende Raad, van die Memorandum kennis geneem het, is ongelukkig nie aan laasgenoemde aanbeveling uitvoering gegee nie.

Britse troepe op pad

As deel van die intimidasie het dit op 28 Maart in Pretoria bekend geword dat Britse troepe in Natal op pad na die Transvaalse grens was. Gedurende die nag van 3 April is by die regeringsmagasyn ingebreek en die kruit gesteel. Vier dae later is ‘n verdedigings-organisasie deur die Engelse inwoners van Pretoria tot stand gebring met die doel om hulle sogenaamd teen die regering te verdedig indien daar verset teen Shepstone se planne kom. Hierdie dinge dui onteenseglik daarop dat hierdie Afrikanervyandige elemente goed op die hoogte met Shepstone se planne was en dat hy hulle straks nog daartoe aangemoedig het.

Op 9 April 1877 het die nuwe Uitvoerende Raad in ooreenstemming met die bepalings van die gewysigde grondwet byeengekom. Ten spyte van die hervormings wat die ZAR-regering aangebring het, het Burgers op dieselfde dag berig van Shepstone ontvang dat hy nou lank genoeg gewag het dat die regering die beoogde hervormings moes deurvoer en dat hy Transvaal nou gaan annekseer, waarop Burgers die volgende dag (Jorissen se idee van) ‘n protesskrif en ‘n beroep op buitelandse moondhede by sy Uitvoerende Raad aanbeveel het. Die Raad het dit aanvaar en dieselfde dag nog het hy, vergesel van die Uitvoerende Raad, Shepstone ontmoet om te red wat nog te redde was, te wete onder meer die landstaal, wetgewing en die posisie van die amptenare. Nadat die Protes opgestel is, het Jorissen en die Hoofklerk Shepstone amptelik besoek en die Protes, wat in die naam van die President was, aan hom voorgelees. Hierdie Protes het die regsbasis gevorm vir die toekomstige optrede van die Transvalers. Terselfdertyd is die volledige besluit wat die Uitvoerende Raad geneem het, aan hom oorhandig. Daarin is onder meer verklaar dat die ZAR gehoor gegee het aan al sy eise om hervorming en dat die groot meerderheid van die volk gekant is teen sy beoogde anneksasie en dat gevolglik sterk beswaar gemaak word teen sy handelwyse. In stryd met Jorissen se opvatting, is kennis gegee dat die Uitvoerende Raad Paul Kruger en dr. Jorissen afgevaardig het om die Britse Minister te gaan spreek en om met buitelandse moondhede in verbinding te tree.

Shepstone annekseer Transvaal

Ten spyte hiervan het Shepstone voorgegaan om die Transvaal op die 12de April te annekseer. Die anneksasieproklamasie, wat deur Shepstone se sekretaris, M Osborn, met ‘n bewende stem op Kerkplein gelees is, het hoofsaaklik maar weer die skynredes bevat. So is onder meer daarin beweer dat die toestand in Transvaal onhoudbaar is en net verder kan versleg, dat die Sekoekoenie-oorlog ‘n bedreiging vir alle Blankes in Suid-Afrika inhou, dat die ZAR-regering onmagtig is om die situasie te hanteer en dat dié situasie gevolglik nie langer deur die Britse regering geduld kon word nie. Daarin is op bedekte wyse ook te kenne gegee dat die meerderheid Transvalers die anneksasie as gevolg van die heersende stand van sake ondersteun. Hierop het nog twee proklamasies gevolg in een waarvan Shepstone onder meer verklaar het dat hy as administrateur die bestuur van Transvaal oorneem.

Die enigste Transvalers wat die anneksasie met wapens wou teëgaan, was die kommando van 400 man onder F Wolmarans. Hierdie poging is egter deur die Burgersregering gefnuik omdat hy geen sin in gewapende optrede gesien het nie en dit net ‘n oorlog met Engeland sou uitlok waarvoor die Transvaal nie gereed was nie en dus nie die onafhanklikheid op dié wyse sou kon handhaaf nie. Die feit dat die anneksasie nie met geweld teëgegaan is nie, moet egter nie net hieraan en aan die oneerlikheid en misleiding van Shepstone toegeskryf word nie. Dit is ook so dat die delwers op die Lydenburgse goudvelde en die Engelse in Transvaal ‘n beduidende rol gespeel het, maar die Transvaalse burgers self is hoegenaamd nie vry te spreek vir hulle lamsakkigheid nie.

Verdeeld en ongedissiplineerd

Afgesien van hulle onderlinge verdeeldheid was baie van hulle heeltemal ongedissiplineerd en het byvoorbeeld geweier om belasting te betaal (wat dan ook bygedra het tot die swak Staatsfinansies), en dit nie net omdat sommige van hulle nie van president Burgers gehou het nie en baie het geweier om aan kommanderingsbevele gehoor te gee; iets wat die Kommandant-generaal van die ZAR, Paul Kruger, in die sestigerjare bykans tot raserny gedryf het en hy by die Volksraad aanbeveel het dat baie streng teen diesulkes opgetree moes word. Sommige ander weer wou hulle eie offisier op kommando wees. Insgelyks het by baie van hulle eiebelang meer as lands- en volksbelang getel. Burgers het dan ook op 2 Junie 1877 in ‘n brief aan Jorissen onder meer verklaar: “Eerst wanneer ons volk in de school van verdrukking heeft geleerd de waarde van onafhankelijkheid op prijs te stellen, zal het vrij kunnen worden.” Alreeds op 7 November 1876 het ook Paul Kruger in ‘n brief aan Piet Joubert verklaar: “Onsen ouders heb alles opgeoffert om ons onafhankelijkheid te verkrijg, nu dit gaat verkog, het is  waarlijk een vloek op ons ouders graf, in (en) ons nageslag zal ons vloek.” In hierdie verband het Jorissen, in die ongepubliseerde memorandum waarna reeds verwys is, kras daaraan toegevoeg: “ … een volk dat zwijgend ondergaat is niet waard ooit een volk te zijn geweest.” Dit is dus baie duidelik dat op hierdie tydstip beslis nie ‘n onblusbare vryheidsdrang in die harte van alle Transvalers gebrand het nie. Gelukkig sou die anneksasie en die gebeure wat in die volgende ietwat meer as drie jaar daarop gevolg het, asook die geesdrif van diegene in wie se harte wel ‘n vryheidsdrang gebrand en aansteeklik op ander volksgenote ingewerk het, ‘n verandering hieraan bring.

Die rol van verraaiers

Die gebeure van die negentigerjare van die 20ste eeu toe ons land deur verraaiers weggegee is, stem baie ooreen met die gebeure in Transvaal voor 1877. Verraad was aan die orde van die dag. Sommige Transvalers, wat selfs die Staatsekretaris, NJR Swart, ingesluit het, het agter die rug van die ZAR-regering met Shepstone geheul. Hieroor merk dr. Jorissen in ‘n brief aan sy seun in Holland, gedateer 20 Mei 1877, op: er is zoo goddeloos veel verraad gepleegd, en er zijn zulke lage middelen gebruikt, dat de naneef (nageslag?) het weten moet door welke fouten een volk te gronde gaat.” Ongelukkig is Burgers self ook van verraad beskuldig, volgens hom selfs deur Piet Joubert, terwyl hy onskuldig was. Shepstone het op ‘n stadium aan hom laat blyk dat hy van plan was om die eiendom van Transvalers te konfiskeer wat hulle teen die anneksasie sou verset. Daaroor het Burgers met hom in gesprek getree en daarin geslaag om hom daarvan te laat afsien. Wat wel waar is, is dat toe Burgers besef het dat die behoud van die onafhanklikheid nie meer moontlik was nie, hy wel ten gunste van die aansluiting van Transvaal by ‘n Suid-Afrikaanse federasie was met die vergesig dat so ‘n federasie in die toekoms los van Brittanje selfstandig sou word; iets wat toe in 1910 wel gebeur het, maar in ‘n uniale vorm. Dit is ook opmerklik dat Burgers telkens verwys het na die verderflike rol wat “priesters” gespeel het en hy het dan gereeld ds. Frans Lion Cachet en ds. JP Jooste by die naam genoem as verraaiers wat met die vyand geheul het. Dit is hoogs te betwyfel of hy so iets sou gedoen het as hy self verraderlik gehandel het. Dit wil dus voorkom asof die geskiedenis (historici) hom ‘n groot onreg aangedoen het met hul beskuldigings.

Dit gaan slegter onder Shepstone

Dit het weldra geblyk dat die toestand in Transvaal onder die bestuur van Shepstone nog slegter was as dié waarvan hy die ZAR-regering beskuldig het. Dit het mettertyd tot gevolg gehad dat selfs diegene wat met hom geheul het, dit besef het. Intussen het die ontevredenheid toegeneem en het selfs die lamsakkiges begin besef wat hulle verloor het toe die onafhanklikheid prysgegee is. Die eerste stap in die Transvalers se verset was alreeds die Protes. Dit was strategies ‘n baie slim skuif en het, soos reeds vermeld, die regsbasis vir die verdere optrede daargestel. In Mei 1877 het die Eerste Afvaardiging, bestaande uit Kruger en Jorissen, na Engeland vertrek, maar soos Jorissen voorheen in sy Memorandum voorsien het, het daar niks van gekom nie omdat Lord Carnarvon vanuit Suid-Afrika met die verkeerde inligting gevoer is en hy natuurlik sy federasieplan ten alle koste wou laat slaag. Hy het hulle dus op oneerlik-beterwetige wyse teëgegaan. Na hulle terugkeer het Kruger in Januarie 1877 aan sowat 1 400 burgers in Transvaal oor die sending verslag gedoen. ‘n Paar weke later is dieselfde in Potchefstroom aan tussen 600 en 700 burgers gedoen. In albei gevalle was daar groot ontevredenheid en daar was selfs burgers wat na die wapen wou gryp. Kruger het hulle tot kalmte gemaan en voorgestel dat by wyse van ondertekende memories aan Carnarvon bewys gelewer moes word dat die meerderheid teen die anneksasie gekant is. Dit is aanvaar en ‘n kommissie van 15 lede benoem om met die afvaardiging oor die verdere werkswyse te beraadslaag.

Dieselfde het in Potchefstroom gebeur. ‘n Versoekskrif is opgestel en die 30 man het die hele Transvaal deurkruis vir die ondertekening daarvan. Die twee kommissies het weldra saamgesmelt en as die Volkskomitee bekend gestaan. In April 1878 het die Volkskomitee die handtekeninge op die plaas Doornfontein, in die teenwoordigheid van meer as ‘n duisend burgers getel. Daaruit het Shepstone se bedrog duidelik geblyk; 6 591 (91.8%) was teen die anneksasie en slegs 587 (8.2%) ten gunste daarvan.

Met hierdie inligting het die Tweede Afvaardiging, bestaande uit Kruger en Piet Joubert, in Junie 1878 na Engeland vertrek. Die nuwe Minister van Kolonies, Michael Hicks-Beach, was egter onversetlik in sy teenkanting om die anneksasie ongedaan te maak. In Januarie 1879 is by Wonderfontein (naby die huidige Carletonville) aan ‘n volksvergadering van ongeveer 3 000 burgers verslag oor die sending gedoen. Weer eens het die koors hoog geloop, maar Kruger het die burgers nogmaals gekalmeer en daarop gewys dat hulle hopeloos te min ammunisie vir ‘n oorlog het. Die burgers het mekaar nietemin belowe dat hulle alles in hulle vermoë sou doen om die onafhanklikheid te herstel.

Volksvergadering

Vanaf 18 Maart 1879 het ‘n volksvergadering van tussen 5 000 en 6 000 burgers by Kleinfontein (in die omgewing van die huidige Benoni) byeengekom en verneem dat die Kaapse goewerneur en Britse Hoë Kommissaris vir Suid-Afrika, sir Bartle Frere, daarheen sou kom en dat die Volkskomitee die ware toedrag van sake aan hom sou meedeel. Frere het Henry Barkly in April 1877 vervang en Carnarvon het hom belowe dat as hy die Suid-Afrikaanse federasie laat slaag, hy die eerste goewerneur-generaal daarvan sou word. Intussen het Owen Lanyon ook gedurende Maart 1879 vir Shepstone as administrateur van Transvaal vervang. Frere se koms is vertraag deur die Zoeloe-oorlog in Natal, waarvoor hy deur die Britse regering blameer is en ‘n paar maande later gedemoveer is tot slegs Hoë Kommissaris van die Kaapkolonie. Hy het dus eers op 10 April by Kleinfontein opgedaag. Die versamelde burgers het sy koms egter al die tyd geduldig afgewag. Ongelukkig het sy koms egter ook nie veel opgelewer nie, behalwe dat hy, soos Shepstone, oud-president Burgers by die Transvaalse leiers verdag gemaak het deur voor te gee dat hy met die anneksasie saamgegaan het. Hy het ook net vir ‘n halfuur vertoef. Die sametrekking van die groot aantal burgers moes hom bekommerd gemaak het en hy het bygedra tot hulle uiteengaan, deur in te stem tot verdere samesprekings met die Volkskomitee by Erasmusspruit, net buite Pretoria. Dit het op 12 April geskied. Ook hiervan het nie werklik iets gekom nie, behalwe dat Frere ten einde laaste op Joubert se aandrang ingestem het om by wyse van ‘n memorie die hele aangeleentheid aan die Britse regering te rapporteer. In wese het dit slegs op vertragingstaktiek van hom neergekom. Die rede vir die dooiepunt was dat die burgers vanselfsprekend die onafhanklikheid van hulle land herstel wou hê en Frere slegs selfregering onder die Britse vlag aangebied het. Frere het wel die memorie aangestuur, maar die Britse koningin het haar nie eers verwerdig om daarop te reageer nie.

Na Frere se demovering, is Garnet Wolseley in September 1879 tot Britse Hoë Kommissaris vir Suidoos-Afrika, wat Transvaal, Natal en Zoeloeland ingesluit het, benoem. Soos Lanyon het ook hy nie veel van die Boere gedink nie en op hulle as lafaards neergesien. Hy het die burgers probeer bangpraat in ‘n poging om hulle tot onderdanigheid te dwing. Op vermetele wyse het hy verklaar dat Transvaal net so min weer onafhanklik sal raak as wat die Vaalrivier sy loop sal verander. Hy het dan ook ‘n proklamasie te dien effekte uitgevaardig. Hierdie Engelse se gesindheid en optrede het die Transvalers se ontevredenheid grade laat styg en sou beslis nie bevorderlik wees vir hulle pogings om die vryheid op nie-gewelddadige wyse te probeer terugkry nie.

Gedurende Desember 1879 het nog eens ‘n volksvergadering, wat vooraf deur Lanyon verbied is, by Wonderfontein plaasgevind. Dit is deur sowat 6 000 burgers bygewoon. By hierdie byeenkoms het die Volkskomitee die burgers ingelig oor die mislukte onderhandelings en hulle menings daaromtrent ingewin. Tien besluite is geneem. Van die besluite was dat: die ZAR-Volksraad so gou moontlik byeengeroep moes word; die onafhanklikheid herstel moes word en indien nodig, tot die dood daarvoor geveg sou word. Die besluite sou skriftelik deur MW Pretorius, die voorsitter van die Volkskomitee en sy sekretaris, dr. WE Bok, aan Wolseley oorgedra word. In afwagting op die reaksie sou intussentyd met ‘n boikot-aksie op alle lewensterreine, wat die niebetaling van belasting insluit, begin word. By ontvangs het Wolseley Pretorius en Bok op ‘n klag van hoogverraad in hegtenis laat neem en dit het die gemoedere nog hoër laat loop, waarop hy Bok op borgtog vrygelaat het, maar Pretorius moes ‘n paar dae in die tronk deurbring voordat ook aan hom borgtog verleen is. Na hierdie vernedering hom aangedoen, het Wolseley jou werklikwaar nog die vermetelheid gehad om Pretorius ‘n regeringpos aan te bied, waarskynlik omdat hy begin agterkom het hoe die wind werklik waai.

Die Volksvergadering wat vir 6 April 1880 belê is, is deur die Volkskomitee uitgestel omdat dit wou voorkom asof die anneksasieprobleem vreedsaam deur ‘n regerings-verandering in Brittanje opgelos kon word. Dit het Wolseley egter verkeerdelik die afleiding laat maak dat die lydelik verset van die Transvalers besig was om te verkrummel en hy het dan ook so aan die Britse Minister van Kolonies berig. Juis omdat dit uit beriggewing wou voorkom asof daar ‘n regeringsverandering in Brittanje aan’t kom was, het Kruger en Joubert hulle in ‘n brief tot WE Gladstone, leier van die Liberale Party, gewend. In sy en sommige van sy partygenote se verkiesingstoesprake is skerp kritiek teen die anneksasie van Transvaal uitgespreek. Toe hy aan bewind kom, het hy egter koue voete gekry en nie meer kans gesien om die anneksasie ongedaan te maak nie.

Federasie afgestem

Intussen het die Transvalers ook Carnarvon se beoogde federasieskema teëgegaan en het Kruger en Joubert in Mei 1880 in die Kaapse Parlement daartoe meegewerk dat dié Parlement federasie afgestem het. Daarmee was Carnarvon se ideale vir goed verydel en was die Engelse noodsaak vir die anneksasie van Transvaal in werklikheid ook daarmee heen. Tog is ter wille van prestige steeds geweier om die onafhanklikheid te herstel.

Na Wolseley se vertrek in 1880 was Lanyon in beheer van Transvaalse sake omdat sy opvolger, sir GP Colley, in teenstelling met hom, net die Britse Hoë Kommissaris vir Natal en Zoeloeland was en nie ook vir Transvaal nie. Lanyon se pogings om bestaande belasting op ‘n doeltreffender manier in te samel, het hom in botsing met die burgers gebring. Soos aangetoon, was baie burgers afkerig om belasting te betaal. Ander weer wou nie daardeur wettigheid aan ‘n besettingsowerheid verleen nie en nog ander was bloot net te behoeftig. Hierdie belastingsaangeleentheid was die vuurhoutjie by die kruitvat wat uiteindelik die Eerste Vryheidsoorlog van die Transvalers ingelui het. Dit op sy beurt het ‘n einde gebring aan die vrugtelose proses van lydelik verset wat die Transvalers onder aansporing van sy volksleiers met groot geduld en selfbeheersing vir 44 maande gevoer het. PJ (Piet) Bezuidenhout is in Potchefstroom voor die hof gedaag nadat hy geweier het om belasting te betaal omdat die bedrag waarmee hy aangeslaan was, veels te hoog was. Ofskoon die landdros hom gelyk gegee het, het hy nietemin bepaal dat Bezuidenhout die hofkoste moes betaal, waartoe hy vanselfsprekend nie bereid was nie. Gevolglik is op ‘n wa van hom beslag gelê met die doel om dit per openbare veiling ter bestryding van die hofkoste te verkoop. Ongeveer 100 burgers het egter die veiling verhoed en die wa laat verwyder en aan sy eienaar terugbesorg. Dit kon Lanyon nie toelaat nie en het troepe na Potchefstroom gestuur om sy gesag te handhaaf en die skuldiges aan die man te bring, maar sonder enige welslae.

In die lig van hierdie gebeure en ‘n dreigende botsing, het die Volkskomitee die volksvergadering wat by Paardekraal gehou sou word met ‘n maand vervroeg tot 8 Desember 1880. Die vergadering is deur 8 000 burgers bygewoon. Hulle het saamgestem dat die besluite wat ‘n jaar tevore by Wonderfontein geneem is, in werking gestel moes word. Op 11 Desember is Paul Kruger (as vise-president) versoek om die regering van die ZAR te herstel, waarop hy die Volksraad byeengeroep het. Die Volksraad het die bestuur voorlopig aan ‘n Driemanskap bestaande uit Kruger, Piet Joubert en MW Pretorius opgedra, die Vierkleur herstel en Heidelberg tot tydelike hoofstad verklaar. In ‘n proklamasie waarin krygswet afgekondig is, is ook kennis gegee dat die onafhanklikheid van die ZAR herstel is. Voordat die burgers by Paardekraal uiteen is, het hulle by wyse van ‘n klipstapeling ‘n heilige belofte in eerbied aan hulle vaders en in liefde jeens hulle kinders, aan mekaar afgelê om getrou aan hulle land en volk te bly en tot die dood toe vir hulle onafhanklikheid te stry, wat hulle tereg as die erfpand van hulle kinders beskou het.

Lanyon is deur die Driemanskap per brief versoek om die sleutels van die staatskantore sonder bloedvergieting te oorhandig. Hy het geantwoord met ‘n proklamasie waarin die optrede van die burgers as rebellie bestempel is. Derhalwe het hy die bevelvoerder van die troepe opdrag gegee om die gesag van die koningin te handhaaf.

Die eerste skote klap

Kommandant-generaal Piet Joubert het aan kommandant Piet Cronjé opdrag gegee om met 400 uitgesoekte burgers na Potchefstroom te gaan en die onafhanklikheids-proklamasie by JP Borrius te laat druk. Aangesien daar Britse troepe in Potchefstroom gestasioneer was, was ‘n botsing onafwendbaar en om 09:30 die oggend van 16 Desember 1880 het die eerste skote dan ook geklap. Dit is nie duidelik wie eerste geskiet het nie, maar daarmee is die begin van die Transvalers se Eerste Vryheidsoorlog ingelui. Dit het dan ook ‘n einde gemaak aan die Transvalers se jarelange vrugtelose pogings om deur onderhandelings hulle vryheid te herstel.

Joubert, wat oor die dienste van 6 000 burgers beskik het, het ten aanvang van die oorlog besluit om die Britse garnisoene by Pretoria, Potchefstroom, Rustenburg, Lydenburg, Middelburg, Standerton, Wakkerstroom en Marabastad (Pietersburg) in ‘n staat van beleg te plaas. Om te voorkom dat Colley, opperbevelvoerder van die Britse magte in Suid-Afrika, Britse troepeversterkings van Natal na Transvaal stuur, het Joubert aan die hoof van ‘n sterk kommando na die Transvaal-Natalgrens vertrek en hom op die strategiese Laingsnek, tussen Volksrust en New Castle, ingegrawe.

Tydens hierdie stryd wat op hande was, sou prominente Britte weldra hulle woorde dat die Boere lafhartige grootpraters was, heelhuids moes sluk. Die eerste skote in die oorlog self het op 20 Desember 1880 by Bronkhorstspruit geklap toe kolonel PR Anstruther, wat in opdrag vanaf Lydenburg met 260 man na Pretoria op pad was, sy rieme deeglik styfgeloop het teen die 150 burgers van generaal Frans Joubert. Na ‘n kort maar hewige skermutseling van sowat tien minute het die Engelse oorgegee. Anstruther en 100 lede van sy mag is gedood, teenoor net twee Boere.

Aan die Natalfront het sake basies op dieselfde wyse verloop en onteenseglik bewys dat gebeure by Bronkhorstspruit geen gelukskoot was nie. Vyf weke later, op 28 Januarie 1881, het ‘n Engelse mag met Colley self aan die hoof hulle rieme by Laingsnek ook deeglik styfgeloop. In die proses is 74 Engelse dood teenoor 14 gesneuwelde Boere. Op 8 Februarie het Colley hom nog eens by Schuinshoogte vasgeloop met die verlies van 76 gesneuweldes teenoor die 8 Boere. Die oorlog is egter finaal beslis deur die gebeure op Majubaberg op 27 Februarie 1881. Gedurende die nag van 26 Februarie het Colley hierdie strategiese berg met 660 man beset, wat aan hom ‘n uitstekende kans gebied het om vanaf hierdie hoër stellings die Boere te bestook en tot oorgawe te dwing. Sy teenstanders se vindingrykheid, dapperheid en bedrewenheid as skuts het sake egter heel anders laat verloop as wat Colley voorsien het. Die burgers het die hange in drie groepe vanuit drie windrigtings bestyg en uiteindelik die Engelse oorrompel. Colley self het die slagoffer van sy eie houtgerustheid geword. Saam met hom het sy tweede in bevel, kommandeur Romilly, asook ‘n verdere 96 troepe gesneuwel. Net een Boer het tydens die geveg omgekom.

Onblusbare vryheidsdrang

Die gebeure op Majuba het ‘n einde aan die oorlog gebring en aangetoon dat wanneer selfs gewone burgers sonder enige militêre opleiding deurdronge is met nasionalisme en ‘n onblusbare vryheidsdrang, geen struikelblok dan te groot is om te oorkom nie. Op 6 Maart 1881 is ‘n wapenstilstand tussen Joubert en sir Evelyn Wood, Colley se tydelike opvolger, gesluit. Kruger was met reg ontevrede dat Joubert hom daarna tot ‘n onvoor-waardelike wapenstilstand met Wood verbind het en sodoende die strategiese voordeel van die oorwinning eintlik prysgegee het, maar hy was onmagtig om iets aan die toedrag van sake te verander. Dit is sowat twee weke later, op 23 Maart, opgevolg met die ondertekening van die vredesverdrag. Die volgende dag het Joubert die burgers huis toe gestuur. Verdere onderhandelinge het op 3 Augustus 1881 uitgeloop op die sluiting van die Konvensie van Pretoria, wat tot die teleurstelling van talle burgers aan die Transvaal Staat, soos die ZAR toe genoem is, nie die volkome vryheid verleen het waarna hulle so gehunker het nie.

In 1883 is Paul Kruger tot president verkies. Hy was nie met die halfgebakte Konvensie van Pretoria gediend nie, met die gevolg dat hy en sy Volksraad stappe begin neem het om dit te hersien. Gevolglik is die Derde Afvaardiging, bestaande uit Kruger, generaal NJ Smit en ds. SJ du Toit na Engeland gestuur om met die Britse regering te gaan onderhandel. Die gevolg was dat die Londense Konvensie tot stand gekom het wat ‘n verbetering op die Konvensie van Pretoria was, maar steeds nie die volkome vryheid van die Sandrivier Konvensie gebied het nie, want verdrae met buitelandse moondhede en swart volke ten ooste en ten weste van die ZAR (die naam is herstel) was aan Britse goedkeuring onderhewig.

Uit hierdie stryd van die Transvalers is ook vandag vir ons ‘n les te leer. ‘n Volk wat in moedeloosheid verval en gaan lê omdat dit kwansuis te laat is, het reeds sy bestaansreg verloor. Slegs deur volhardende deelname aan ‘n volkstryd wat vanselfsprekend baie opofferings mag verg, sal sukses, binne God se Wil, moontlik wees. Het mnr Jaap Marais dan nie ook gesê “stryd is lewe”nie?

Dr Pieter Möller