Die Afrikanervolk en sy land Suid-Afrika

Dr Pieter Möller
Dr Pieter Möller

Die Afrikanervolk is tans onderworpe knegte in ‘n land wat deur sy voorouers met baie ontberings en die verspilling van kosbare bloed gekoop is. Daarom juis is die onwaarhede wat so gereeld hieroor in woord en geskrif verkondig word, so onvergeeflik. Hierdie vyande van die Afrikanervolk verklaar met groot stelligheid dat ons voorouers grond van die Swartes in Suid-Afrika op ‘n onregmatige wyse en deur diefstal bekom het en hulle vermoor, verslaaf en verkneg het. Dit is van alle waarheid ontbloot.

Feit is die Swartes het nie hulle ontstaan in Suid-Afrika gehad nie, maar te oordeel aan volkekundiges (etnoloë) êrens in die omgewing van die Groot Meergebied van Oos- Sentraal-Afrika of in die omstreke van die Crossrivier in Wes-Afrika. Omdat hulle nie oor skrif beskik het nie, was dit nie vir wetenskaplikes moontlik om die presiese plek vas te stel nie. Onderlinge oorloë, die vermeerdering van sowel hulle getalle as dié van hulle veekuddes, asook om aan Arabiese slawejagters te ontkom, het hulle op ‘n later tydstip in drie hoofmigrasiestrome vanuit die woudgebiede van die Kongo laat uitwyk.

Een afdeling (vroeër deur volkekundiges die Suid-Bantoe genoem) het met verloop van eeue suidwaarts getrek en uiteindelik in Suider-Afrika gevestig. Die Xhosas wat aan die voorpunt van die suidweswaartse beweging was, het teen ongeveer 1775 by die Visrivier met die Blanke veeboer-trekboer in aanraking gekom wat op dieselfde wyse as die Xhosas, maar in die teenoorgestelde rigting as hulle, agter water en weiveld aan getrek het. Onder die Suid-Bantoe ressorteer die Ngunivolke, die Sothovolke, die Venda en die Shangana-Tsonga. Elkeen van hierdie volke bestaan weer uit ‘n aantal stamme. Die Xhosa byvoorbeeld maak deel uit van die Ngunivolke.

Die waarheid is dus dat nie die Blankes die “settlers” is soos gereeld neerhalend na hulle verwys word nie, maar wel die Swartes self. Sou die Khoisan (Khoi = Hottentotte en San = Boesmans) oor groter getalle beskik het, sou hulle met reg aanspraak op Suid-Afrika kon maak, want hulle het reeds gedurende die 15de eeu die suidpunt van Afrika bereik en was dus sonder twyfel die eerste inwoners van die gebied.

Volksplanting

Ons as Afrikanervolk glo dat dit God se Wil was dat die volksplanting aan die Kaap in 1652 deur Protestantse gelowiges plaasgevind het, want lank voordat die Hollanders om die Kaap na die Ooste gevaar het, het die Portugese, wat Rooms-Katolieke was, dit reeds gedoen, maar geen belangstelling in die Kaap getoon nie. Hierdie Hollanders, Duitsers en Franse aan die Kaap was weliswaar uit Europa afkomstig, maar uit hulle het ‘n nuwe volk op die Afrika-bodem ontstaan, en dit was hulle en nie die Europeërs nie, wat die grootste deel van die woeste en wilde wêreld (die latere Kaapkolonie) getem het lank voordat die Xhosas hulle opwagting by die Visrivier gemaak het. Kenmerke van hierdie nuwe volk was sy godsdiens- en vryheidsin; iets wat te begrype is as in aanmerking geneem word dat hulle nasate van die kinders van die 16de eeuse Kerkhervorming was. Hulle voorsate was as gevolg van hulle geloofsoortuigings die slagoffers van ontsettende vervolging deur die Rooms-Katolieke Kerk en die oorloë wat as gevolg daarvan gevolg het. Wanneer die nuwe volk se godsdiens of vryheid aangetas of bedreig is, of die volksgenote van mening was dat dit kon gebeur, het hulle (of dan wel ‘n kerngroep uit hulle geledere) hul gevolglik met alle middele tot hulle beskikking hewig verset. Die Groot Trek van 1835 – 1838 het in hierdie gesindheid plaasgevind, want dit was in wese so ‘n versetpoging teen die swak en bevooroordeelde beleid wat die Kaapse owerheid vir baie jare teenoor hulle as Oosgrensboere gevolg het en wat die lewe vir hulle onmoontlik gemaak het omdat die blaam vir alles wat verkeerd gegaan het, ten spyte van hulle lewens- en materiële verliese, altyd voor hulle deur gelê is. Die doel met hierdie volksverhuising was derhalwe die behoud van die volksidentiteit en die verkryging van ware en volkome vryheid in ‘n eie staat waarin hulle hulleself sou regeer in ooreenstemming met hulle eie beginsels en geloofsoortuigings en volgens wette wat hulle self sou maak.

Tydens die Difaqane van 1815 tot 1830 was die binneland van die latere Suid-Afrika deur barbaarse, onderlinge uitdelgingsoorloë bykans ontvolk. Die vrugbare streek wat aanstons as Natal bekend sou staan, is geheel en al verwoes en na raming het die bevolking gedurende hierdie tydperk van 100 000 tot omtrent 10 000 verminder. Die toestand in die binneland van die latere Suid-Afrika, d.w.s die gebied noord van die Oranjerivier wat die latere Transvaal en die Oranje-Vrystaat ingesluit het, was soortgelyk aan die in Natal en is die swart bevolkings tot ‘n breukdeel van hulle oorspronklike getalle verklein. In al hierdie gebiede het diegene wat die verwoesting vrygespring en ontvlug het, skuiling in onherbergsame dele, soos sowel die berge van Noord-Transvaal as dié van die huidige Lesotho (by Mosjes) en die woestynagtige gebiede van die huidige Botswana, gevind. Die kaalgestroopte gebiede het hongersnood tot gevolg gehad en vir oorlewing selfs aanleiding tot kannibalisme gegee.

Leë ruimtes

Teen die tyd toe die Groot Trek plaasgevind het, was die ontwortelde swart bevolking van Suid-Afrika as gevolg van die Difaqane versprei soos ‘n groot perdehoefyster vanaf die woestynrand van die Kalahari noordwaarts deur Noord-Transvaal, ooswaarts deur Swaziland, Zoeloeland, Lesotho en die Transkeigebiede tussen die Umzimvubu- en die Keirivier in die suide, met ‘n lugleë ruimte tussenin, soos trouens ook tussen Zoeloeland en die Umzimvuburivier aan die Pondogrens. Hierdie hoefystervorm het die kern uitgemaak van die latere tuislande soos dit met die beleid van afsonderlike ontwikkeling vir die nege etniese volkere uitgekristalliseer het.

Hierdie enorme uitwissing was die resultaat van die oorlogsugtigheid van veral die Zoeloes en Matebeles, maar ook die Mangwanes, Hlubi en Tlokoa wat deur die Zoeloes opgejaag is en dood en verwoesting onder die vreedsame Sotho-stamme noord van die Oranjerivier gesaai het. Hierdie uitbarsting in Zoeloeland het ‘n kettingreaksie tot gevolg gehad wat sy invloed tot ver buite die grense van die huidige Suid-Afrika voelbaar gemaak het.

Zoeloes

Wat die Zoeloes betref, was daar teen die 18de eeu sowat 200 onafhanklike Nguni-stamme in die latere Zoeloeland en Natal. Met die dood van sy pa het Tsjaka in 1816 leier van een van hierdie klein stammetjies, die Zoeloe, geword wat soos die ander stammetjies oor ‘n relatief klein grondgebied beskik het. Op bekwame en ambisieuse wyse het hy sy impi gedissiplineer en afgerig en daarna een na die ander omliggende stammetjie begin verower en by syne ingelyf totdat hy uiteindelik almal by sy Zoeloe-stam gevoeg het. Waar sy impi aanvanklik uit slegs 500 krygers bestaan het, het hy na die konsolidasie van die Zoeloevolk afgehandel was teen 1828 met sy dood oor ‘n mag van 50 000 beskik. Teen hierdie tyd het die Zoeloegrondgebied 500 000 vierkante kilometer beslaan en gestrek vanaf die Keirivier in die suide tot by die Limpoporivier in die noorde en vanaf Betsjoeanaland in die weste tot by die Indiese Oseaan in die ooste. Geen wonder dus nie dat hy deur sommige historici as die swart Napoleon beskou word.

As uitvloeisel van die Tsjaka-bewind het die Matebele-stam onder Mzilikazi tot stand gekom. Mzilikazi (Silkaats) was een van Tsjaka se generaals. In 1824 het hy die onvergeeflike fout begaan om na ‘n strooptog nie al die gebuite beeste aan Tsjaka uit te lewer nie. Tsjaka het dit te hore gekom, met die gevolg dat Mzilikazi, vergesel van ‘n aantal volgelinge, vir sy lewe moes vlug. Hy het hom aanvanklik in die omgewing van die huidige Pretoria gevestig, maar soos sy stam uitgebrei het ook ander krale in veral Wes-Transvaal tot stand gebring. Hy het op dieselfde wyse as Tsjaka te werk gegaan en dieselfde, vir hom bekende, krygstaktiek toegepas, wat inwoners van die Wes-Drakensbergse gebied weerloos gelaat het. Die gevolg was dat ‘n ontsettende slagting tussen 1824 en 1830 in hierdie gebied plaasgevind het, wat nooit na behore nagevors is nie. As gevolg van die Difaqane was die gebied tussen die Oranje- en Limpoporivier een groot slagveld.

Geruilde grond

Die gevolg van hierdie uitwissing was dat toe die Voortrekkers die Oranjerivier oorgesteek het, hulle ‘n relatief ontvolkte gebied binnegetrek het en oor ‘n wye gebied slegs verlate krale en doodsbeendere aangetref het. In verskeie Voortrekkerdokumente is hieroor berig. Leiers soos Hendrik Potgieter en Andries Pretorius het hulle in dergelike terme oor die toestand in die Trans-Oranje uitgelaat. Dekades later het president Paul Kruger hom ook uitgelaat oor die toestand in die binneland toe die Voortrekkers van Potgieter daarheen verhuis het. Geoordeel aan hom was daar op daardie tydstip sowat 30 000 verarmde Swartes in die latere Transvaal wat uit vrees vir aanvalle deur ander swart stamme in gate en spelonke geskuil het. Die stelling word onder meer bevestig deur die feit dat die Batuangkaptein, Makwana, byvoorbeeld die gebied tussen die Vet- en die Vaalrivier vir 29 beeste én die waarborg vir beskerming teen die Matebeles, aan Potgieter verruil het. Dié gebied is op ‘n wettige wyse deur die Voortrekkers bekom en derhalwe nie gesteel of onregmatig bekom nie. Potgieter het na hierdie gebied as die “geruilde grond” verwys. Dit was in die latere Oranje-Vrystaat geleë en het dan ook op ‘n later tydstip deel van die Republiek van die Oranje-Vrystaat geword.

Ofskoon die geskiedenis vandag deur ons volksvyande herskryf word, en voorgaande feite oor die onderlinge uitdelging as verdigsels van die Blankes afgemaak word, is daar genoeg bewyse om hierdie feite te staaf. So byvoorbeeld het reisigers wat die binneland besoek het en sendelinge wat nie polities gemotiveerd was nie, dieselfde verhaal vertel. Ook prof. JD Omer-Cooper, wat op ‘n tydstip aan die Universiteit van Zambië verbonde was, verleen geloofwaardigheid aan voorgaande feite deur sy navorsing oor die Difaqane. Sy navorsing het neerslag gevind in sy boek The Zulu Aftermath: A Nineteenth Century Revolution in Bantu Africa. Daarin verklaar hy onder meer: “The collossal upheaval was accompanied by carnage and destruction on a appalling scale. Whole tribes were massacred and even more died in the famine and anarchy which followed in the wake of the desolating hordes. Still greater numbers abandoned their ancestral lands and sought refuge in the difficult mountain country or elsewhere, where geographical features held out hope of asylum. The pattern of the population distribution in South Africa was radically changed. Instead of a fairly even scatter of tribes with population density varying according to the advantages of water and soil, great agglomerations of peoples emerged, often centred on relatively inhospitable terrain and separated from one another by considerable tracts of virtually empty land.”

In hulle oorlogsugtigheid het sowel die Matebeles as die Zoeloes onuitgelokte aanvalle op die Voortrekkers van stapel gestuur wat uiteraard vergeldingsmaatreëls regverdig het. Gedurende 1836 het die Matebeles by drie geleenthede Blankes aangeval. Die eerste  het teen die middel van die jaar plaasgevind toe die jaggeselskappe van die Erasmusse en Liebenbergs in die omgewing van die huidige Parys oorval en op enkele uitsonderings na almal vermoor is. Toe dit bekend geraak het, het groepe Voortrekkers dadelik aan die Vaalrivier laer getrek. Die Matebeles het hulle dan ook gedurende Augustus aangeval, maar die aanval is afgeslaan. Daarna is in die omgewing van Heilbron laer getrek, waar 6000 Matebeles die laer by Vegkop op 16 Oktober 1836 aangeval het. Die 33 weerbare man was in staat om ook hierdie aanval af te slaan, maar twee Voortrekkers is in die proses gedood. Die Matebele-verliese was 430, maar hulle het die aftog geblaas met al die Voortrekkervee wat uiteraard buite die laer was, te wete ongeveer 100 perde, 5 000 beeste en 50 000 skape. Dit het hierdie Voortrekkers gestrand gelaat totdat hulp opgedaag het.

Indien die Groot Trek moes slaag, sou sulke wandade nie geduld kon word nie, met die gevolg dat Potgieter en Maritz, vergesel van 107 man, op die eerste strafekspedisie teen Mzilikazi vertrek het. Op 17 Januarie 1837 is die nog slapende Matebeles vroegoggend in hulle stat Mosega verras, verslaan en verdryf. In die proses is 7 000 beeste as skadevergoeding buitgemaak. Aangesien Mzilikazi se mag nog nie gebreek was nie en hy steeds ‘n bedreiging vir die Voortrekkers ingehou het, het Potgieter en Uys tien maande later weer met ‘n kommando van 360 man na die kraal Kapain, waar Mzilikazi hom toe bevind het, vertrek. Hierdie keer was die Matebeles op hulle hoede en het vanaf die 4de November vir nege dae lank hewige teenstand gebied voordat die kommando die stat ingeneem het. Drieduisend van Mzilikazi se impi het tydens hierdie tweede strafekspedisie in die stof gebyt en om aan die verdere gramskap van die Voortrekkers te ontkom, het hy en sy volgelinge oor die Limpoporivier gevlug en ‘n nuwe hoofstat by Bulawayo aangelê. Daarmee was die Matebele-bedreiging iets van die verlede.

Verowerde gebied

Op grond van die oorwinning het Potgieter die hele gebied waaroor die Matebeles gesag gevoer het tot Voortrekkergebied verklaar en daarna as die “verowerde gebied” verwys. Die Voortrekkers het dus ook hierdie grond nie gesteel nie, maar wettig bekom. Daarna het die ontwortelde swart stammetjies uit hulle obskure skuilplekke gekom en die gesag van die Voortrekkers aanvaar. Hulle kon hulle normale lewens voortsit en in vrede vermeerder sodat hulle getalle tans miljoene beloop; dit alles te danke aan ons voorouers wat nou so verguis word. Was dit nie vir die Voortrekkers nie, sou hierdie klein stammetjies almal uitgemoor gewees het of van honger omgekom het. Ondank is egter wêreldsloon, want ironies genoeg het opperhoofde van hierdie stammetjies in latere jare, veral in Noord-Transvaal, ‘n groot bedreiging vir die veiligheid van die Transvalers ingehou. So moes die dorpie Schoemansdal byvoorbeeld in Julie 1867 deur sy blanke inwoners geheel en al ontruim word, waarna die Swartes dit heeltemal verwoes het. Die vyandigheid van swart stamme het dan ook tot meer as een oorlog aanleiding gegee.

In 1838 het Potgieter die “geruilde grond” en die “verowerde gebied” gekonsolideer en daarop sy Potchefstroom-Winburg Republiek gestig. Sedertdien kon hy voortgaan om hierdie gebied van die barbaredom te ontworstel en dit vir die beskawing en Christendom te tem en dit te ontwikkel. Met die Sandrivier Konvensie van 1852 het Brittanje die onafhanklikheid van die Voortrekkers noord van die Vaalrivier erken, wat by implikasie tog beteken dat selfs die Britse regering op daardie tydstip erken het dat die Transvalers die wettige eienaars van hierdie gebied was.

Wat die Voortrekkers betref, het in Natal ‘n dergelike toneel as in die Wes-Drakensbergse gebied hom ontvou, net nog bloediger. Omdat die Voortrekkers beskaafde mense was,  het hulle leier, Pieter Retief, nog voordat hulle die latere Natal binnegetrek het, grond van die wettige eienaar, koning Dingaan van die Zoeloes, probeer bekom. Derhalwe het hy en ‘n klein gevolg Dingaan met hierdie doel voor oë in November 1837 by sy hoofkraal Umgungundhlovu besoek. Na ‘n aanvanklike vyandige houding en beskuldiging dat die Voortrekkers sy beeste gesteel het, het hy onderneem om die gebied tussen die Tugela- en Umzimvuburivier aan Voortrekkers af te staan indien hulle sy gesteelde beeste aan hom sou terugbesorg. Dit het later aan die lig gekom dat hierdie gebied grotendeels onbewoon was. Retief het vasgestel dat Sekonyela van die Thlokoa-stam die skuldige was en het onder meer 700 beeste sonder teenstand by hom afgeneem.

Intussen het die meerderheid Voortrekkers besluit dat Natal die eindbestemming van die Groot Trek sou wees en Natal oor die Drakensberge binnegetrek. Na ‘n volksvergadering in die laers het Retief, ten spyte van teenkanting en verskeie waarskuwings teen verraad, met ‘n sewentigtal man en ‘n dertigtal agterryers na Ungungundhlovu vertrek waar hy op 3 Februarie 1838 aangekom het. Die volgende dag is die traktaat van grondafstand, waardeur die Voortrekkers die beloofde gebied wettig sou bekom, onderteken. Alles is egter ongedaan gemaak toe Dingaan die hele geselskap op die 6de Februarie op die wreedste denkbare manier laat vermoor het.

Bloukrans en Moordspruit

Daarna het hy sy impi’s losgelaat op die niksvermoedende Voortrekkers, wat ongelukkig op ongedissiplineerde wyse die laers verlaat en oor ‘n gebied van 56 kilometer versprei was, met die gevolg dat gedurende die nag van 16 tot 17 Februarie 1838 ‘n ontsettende slagting onder man, vrou en kind by die Bloukransrivier, Moordspruit en Boesmansrivier plaasgevind het. In die proses het goed 370 Voortrekkers en 250 van hulle bediendes, weer eens op ‘n afgryslike wrede manier, gesterf. Voordat hulle onder leiding van Maritz uiteindelik teen die middag van die 17de Februarie verjaag is, het hulle ontsettende skade aangerig en boonop die aftog met 25 000 stuks Voortrekkerbeeste geblaas.

Aanvanklike pogings om die Zoeloes tot orde te roep, het op tragedies uitgeloop en die Voortrekkers in ‘n nog hagliker situasie gelaat as waarin hulle alreeds verkeer het. God het egter die uitkoms bewerkstellig met die koms van Andries Pretorius na die beleërde laers. Op 28 November 1838 het hy aan die hoof van ‘n kommando, wat uiteindelik uit sowat 470 man bestaan het, op die tweede strafekspedisie teen die Zoeloes vertrek en hulle ten einde laaste op 16 Desember op wonderbaarlike wyse by Bloedrivier onderwerp. Tydens hierdie verbete aanslag van die Zoeloes het geen Voortrekker gesneuwel nie, terwyl na raming 3 000 Zoeloes gedood is. Belangriker nog, deur die Gelofte wat op 9 Desember 1838, op die vooraand van die komende stryd afgelê is, is die Voortrekkers en hulle nageslag vir ewig aan God Drie-enig verbind.

Dingaan se traktaat

Vanaf Bloedrivier is die tog na Ungungundhlovu voortgesit, wat op 20 Desember bereik is. Omdat Dingaan na die omgewing van die Wit Umfolozirivier gevlug het, was die stat verlate en gedeeltelik afgebrand. Net buite die kraal is die oorblyfsels van die Retief-geselskap op die koppie, Kwa Matiwane, waar Dingaan sy teenstaanders vermoor het, aangetref. In Retief se bladsak is die traktaat van grondafstand nog in ongeskonde toestand gevind. Op grond van hierdie wettige dokument kon die Voortrekkers dus aanspraak maak op die gebied tussen die Tugela- en Umzimvuburivier.

Alle pogings tot vrede met Dingaan het misluk omdat hy nie sy ondernemings gestand gedoen het nie. Hy het teen 1839 egter steeds oor derduisende impi’s beskik wat steeds  ‘n bedreiging vir die Republiek van Natalia ingehou het. Hierdie Republiek is in 1838 tot stand gebring op grond van sowel die Retief-Dingaantraktaat as die militêre oorwinning by Bloedrivier. Dit het die grondgebied omvat wat Dingaan aan Retief afgestaan het. Ook hier het die Voortrekkers dus niks gesteel nie, maar die gebied op wettige gronde in besit geneem. Dingaan se mag is finaal gebreek toe sy halfbroer, Mpande (Panda), wat van hom weens sy tirannie weggebreek het, hom met die morele ondersteuning van Pretorius en ‘n kommando in Februarie 1840 by die Makonkokoppe verslaan het, waarop Pretorius hom tot koning van die Zoeloes uitgeroep het en Zoeloeland, tussen die Tugela- en Swart Umfolozirivier, ‘n vasalstaat van die Republiek Natal geword het. Goeie betrekkinge is tussen die Voortrekkers en Mpande gehandhaaf totdat die Engelse, volgens gewoonte, alles beduiwel het nadat hulle Natal in 1843 vir Brittanje geannekseer het. Pretorius het die gebied tussen die Swart Umfolozi- en Tugelarivier in 1840 op grond van ‘n Volksraadbesluit van die vorige jaar geannekseer. Daarna het die grense van die Republiek Natalia dus gestrek vanaf die Swart Umfolozirivier in die noorde tot by die Umzimvuburivier in die suide en vanaf die Drakensberge in die weste tot by die Indiese Oseaan in die ooste. Na die nederlaag by Makonkokoppe het Dingaan op die vlug geslaan en is uiteindelik deur ‘n Swazi in Swaziland doodgesteek.

Alhoewel die Griekwas van Adam Kok en die Basoetoes van Mosjesj in die gebied tussen die Oranje- en Vaalrivier moeilikheid vir die Blankes veroorsaak het, het dit ongetwyfeld tot voor die drie Basoeto-oorloë (1855 – 1867) heelwat later, nie dieselfde afmetings aangeneem as die gebeure in Transvaal en Natal nie. Potgieter se oorwinning oor die Matebeles het ook ‘n einde gemaak aan die Matebele-gruweldade in hierdie gebied. Net soos in Natal het die Engelse ook hierdie gebied in 1848 geannekseer, maar dit as gevolg van moeilikhede met die Basoetoes en geldelike probleme met die sluiting van die Bloemfonteinse Konvensie in 1854 weer aan die Voortrekkers as ‘n onafhanklike staat afgestaan. Die implikasie hiervan was dus eweneens dat hierdie gebied aan die Voortrekkers (Boere) behoort. Ook hier was daar dus, selfs vanuit die geledere van ons groot volksvyand, Brittanje, geen sprake dat ons voorouers die gebied gesteel het nie.

Uit voorgaande behoort dit duidelik te wees dat ons volk alle reg op aanspraak op ons land Suid-Afrika het. Hartseer is dit egter dat ons die land wat wettig aan ons behoort en waaraan ons meer as drie eeue lank innig verbonde was, uiteindelik tog verloor het omdat dit op ‘n skinkbord aan die Swartes oorhandig is, nie as resultaat van ‘n oorlog of geweld of iets dergeliks nie, maar deur verraad vanuit eie geledere; iets waarteen die HNP sedert 1969 onophoudelik gewaarsku het toe dit duidelik geword het dat John Vorster van die tradisionele apartheidsbeleid van die Nasionale Party begin afwyk het.

Dr Pieter Möller